Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | LEWE NÁ DIE DOOD—IS DIT MOONTLIK?

Is daar hoop vir die dooies?

Is daar hoop vir die dooies?

Kan die dooies weer lewe?

DIE BYBEL SE ANTWOORD: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom.”Johannes 5:28, 29.

Jesus het ’n toekomstige tyd onder sy Koninkryk se heerskappy voorspel wanneer die Graf leeggemaak sal word. “Ek was verstom toe ek Johannes 5:28, 29 die eerste keer gelees het”, sê Fernando, wat in die vorige artikel gemeld is. “Dit het my ware hoop gegee, en ek het optimisties oor die toekoms begin voel.”

In die ou tyd het die getroue man Job verwag dat God hom eendag ná sy dood sou opwek. Job het gevra: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” Toe het hy met vertroue geantwoord: “Al die dae van my dwangarbeid [tyd in die Graf] sal ek wag, totdat my verligting kom. U sal roep, en ek sal u antwoord.”—Job 14:14, 15.

Lasarus se opstanding gee ons hoop vir die toekoms

Vir Lasarus se suster Marta was die opstanding nie ’n nuwe gedagte nie. Nadat Lasarus gesterf het, het Jesus vir haar gesê: “Jou broer sal opstaan.” Marta het geantwoord: “Ek weet dat hy in die opstanding op die laaste dag sal opstaan.” Toe het Jesus vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie geloof in my beoefen, sal lewend word, selfs al sterf hy” (Johannes 11:23-25). En toe het Jesus Lasarus opgewek! Hierdie opwindende verslag gee ons ’n voorskou van die groter dinge wat hy nog in die toekoms gaan doen. Stel jou voor dat sulke opstandings op wêreldskaal plaasvind!

Sal party tot hemelse lewe opgewek word?

DIE BYBEL SE ANTWOORD: God se Woord toon dat Jesus se opstanding verskil het van die ander opstandings wat in die Bybel opgeteken is. Daardie mense is hier op die aarde opgewek. Maar ons lees in verband met Jesus se opstanding: “Jesus Christus . . . is aan God se regterhand, want hy het na die hemel gegaan” (1 Petrus 3:21, 22). Sou Jesus die enigste persoon wees wat ’n hemelse opstanding ontvang? Jesus het vroeër vir sy apostels gesê: “As ek gaan en vir julle ’n plek berei, kom ek weer en sal julle tuis ontvang by my, sodat julle ook kan wees waar ek is.”—Johannes 14:3.

Christus het hemel toe gegaan en vir die koms van party van sy dissipels gaan voorberei. Uiteindelik sal 144 000 mense tot hemelse lewe opgewek word (Openbaring 14:1, 3). Maar wat sal hierdie getroue volgelinge van Jesus daar doen?

Hulle sal baie besig wees! Die Bybel sê vir ons: “Gelukkig en heilig is enigeen wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen gesag nie, maar hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die duisend jaar lank saam met hom as konings heers” (Openbaring 20:6). Diegene wat tot hemelse lewe opgewek word, sal as koning-priesters saam met Christus oor die aarde regeer.

Wie sal later opgewek word?

DIE BYBEL SE ANTWOORD: In die geïnspireerde Skrif het die apostel Paulus gesê: “Ek het die hoop op God, ’n hoop wat hierdie manne self ook koester, dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees.”Handelinge 24:15.

God se Woord verseker ons dat miljarde wat gesterf het, weer sal lewe

Wie sal onder “die regverdiges” wees waarna Paulus verwys het? Kyk na ’n voorbeeld. Vir die getroue man Daniël is daar teen die einde van sy lewe gesê: “Jy sal rus, maar jy sal opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (Daniël 12:13). Waar sal Daniël opgewek word? “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon” (Psalm 37:29). En Jesus het voorspel: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Daniël en ander getroue manne en vroue sal op die aarde opgewek word en vir ewig daarop lewe.

Wie sal onder “die onregverdiges” wees waarna Paulus verwys het? Die miljarde mense wat geleef en gesterf het, waarvan baie nooit die geleentheid gehad het om Bybelwaarheid te verstaan en toe te pas nie. Ná hulle opstanding sal hulle kennis van Jehovah * en Jesus kan inneem en waardering vir hulle kan opbou (Johannes 17:3). Almal wat besluit om God te dien, sal die vooruitsig hê om so lank te lewe as wat Jehovah lewe—vir ewig.

Almal wat besluit om God te dien, sal die vooruitsig hê om vir ewig in volkome gesondheid en geluk te lewe

Hoe sal toestande op die aarde wees?

DIE BYBEL SE ANTWOORD: God “sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet.”—Jesaja 65:21.

Stel jou voor dat jy onder sulke toestande woon saam met jou geliefdes wat uit die dood opgewek is! Maar die vraag bly staan: Hoe kan jy seker wees dat die opstanding sal plaasvind?

^ par. 15 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.