Spring na inhoud

Leer die Bybel dat mens altyd gered is as jy eenmaal gered is?

Leer die Bybel dat mens altyd gered is as jy eenmaal gered is?

Die Bybel se antwoord

 Nee, dit ondersteun nie die leerstelling van ‘eenmaal gered, altyd gered’ nie. Iemand wat gered is weens sy geloof in Jesus Christus, kan hierdie geloof verloor, asook die redding wat daarmee gepaardgaan. Die Bybel sê dat dit baie inspanning verg om ons geloof te behou, ons moet ‘hard stry’ (Judas 3, 5). Vroeë Christene wat Christus reeds aangeneem het, is gesê: “[Hou aan] om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk.”—Filippense 2:12.

Bybelverse wat die leerstelling van ‘eenmaal gered, altyd gered’ weerlê

  •   Die Bybel waarsku teen ernstige sonde wat sal verhoed dat ’n persoon God se Koninkryk binnegaan (1 Korintiërs 6:9-11; Galasiërs 5:19-21). As ’n mens nie jou redding kan verloor nie, sou hierdie waarskuwings sinloos gewees het. Die Bybel toon eerder dat iemand wat gered is, afvallig kan word as hy weer ernstige sonde beoefen. Hebreërs 10:26 sê byvoorbeeld: “Want as ons moedswillig sonde beoefen nadat ons die juiste kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offerande vir sondes meer oor nie.”—Hebreërs 6:4-6; 2 Petrus 2:20-22.

  •   Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit is om ons geloof te behou toe hy ’n illustrasie vertel waarin hy homself met ’n wingerdstok en sy volgelinge met lote op hierdie wingerdstok vergelyk het. Party van hulle sou op die een of ander tyd geloof in hom toon deur hulle vrugte, of dade, maar sou later ophou om dit te doen en soos “’n loot [sonder vrugte] uitgegooi” word, en hulle redding verloor (Johannes 15:1-6). Die apostel Paulus het ’n soortgelyke illustrasie gebruik en gesê dat Christene wat nie hulle geloof behou nie, “afgekap [sal] word”.—Romeine 11:17-22.

  •   Christene word beveel om “aan [te hou] waak” (Matteus 24:42; 25:13). Dié wat geestelik aan die slaap raak, verloor hulle redding, hetsy hulle “werke wat tot die duisternis behoort” beoefen, of nie die werk ten volle doen wat Jesus hulle beveel het om te doen nie.—Romeine 13:11-13; Openbaring 3:1-3.

  •   Baie tekste toon dat dié wat gered is, nog steeds tot die einde toe moet volhard (Matteus 24:13; Hebreërs 10:36; 12:2, 3; Openbaring 2:10). Eerste-eeuse Christene het hulle vreugde uitgespreek toe hulle hoor dat medegelowiges volhard in hulle geloof (1 Tessalonisense 1:2, 3; 3 Johannes 3, 4). Sou die Bybel getroue volharding beklemtoon as dié wat nie volhard nie, in elk geval gered sou word?

  •   Die apostel Paulus was eers seker dat hy gered sou word toe hy geweet het dat hy kort voor lank sou sterf (2 Timoteus 4:6-8). Vroeër in sy lewe het hy geweet dat hy nog steeds sy redding kan verloor as hy voor vleeslike begeertes swig. Hy het geskryf: “Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf, sodat ek, nadat ek vir ander gepreek het, nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie.”—1 Korintiërs 9:27; Filippense 3:12-14.