Spring na inhoud

Wat is redding?

Wat is redding?

Die Bybel se antwoord

 Die terme “red” en “redding” word soms deur Bybelskrywers gebruik om die idee oor te dra van iemand wat uit gevaar of van vernietiging gered word (Eksodus 14:13, 14; Handelinge 27:20). Maar dikwels verwys hierdie terme na verlossing van sonde (Matteus 1:21). Aangesien die dood deur sonde veroorsaak word, het mense wat van sonde gered is, die hoop om vir ewig te lewe.—Johannes 3:16, 17. a

Wat is die weg tot redding?

 Om gered te word, moet jy geloof beoefen in Jesus en hierdie geloof toon deur sy gebooie te gehoorsaam.—Handelinge 4:10, 12; Romeine 10:9, 10; Hebreërs 5:9.

 Die Bybel toon dat jy werke, of dade van gehoorsaamheid, moet doen om te bewys dat jou geloof lewend is (Jakobus 2:24, 26). Maar dit beteken nie dat jy redding kan verdien nie. Dit is “God se gawe” wat op sy “onverdiende goedhartigheid”, of “genade”, gebaseer is.—Efesiërs 2:8, 9; King James Version

Kan ons redding verbeur?

 Ja. Net soos iemand wat gered is nadat hy amper verdrink het, weer in die water kan val of kan terugspring, kan iemand wat gered is van sonde, maar wat ophou om geloof te beoefen, redding verbeur. Daarom spoor die Bybel Christene wat redding ontvang het, aan “om hard te stry vir die geloof” (Judas 3). Dit waarsku ook diegene wat gered is en sê: “[Hou aan] om julle eie redding met vrees en bewing te bewerk.”—Filippense 2:12.

Wie is die Redder—God of Jesus?

 Die Bybel identifiseer God as die vernaamste bron van redding en verwys dikwels na hom as “Redder” (1 Samuel 10:19; Jesaja 43:11; Titus 2:10; Judas 25). Daarbenewens het God verskeie manne gebruik om die eertydse nasie Israel te bevry, en die Bybel noem hulle “redders” (Nehemia 9:27; Rigters 3:9, 15; 2 Konings 13:5). b En aangesien God verlossing van sonde voorsien deur die losprysoffer van Jesus Christus, verwys die Bybel ook na Jesus as ons “Redder”.—Handelinge 5:31; Titus 1:4. c

Sal almal gered word?

 Nee, party mense sal nie gered word nie (2 Tessalonisense 1:9). Toe Jesus gevra word of “dié wat gered word min” is, het hy gesê: “Span julle kragtig in om deur die nou deur in te gaan, want baie, sê ek vir julle, sal probeer ingaan, maar sal nie in staat wees nie.”—Lukas 13:23, 24.

Wanopvattings oor universele redding

 Wanopvatting: Eerste Korintiërs 15:22 leer universele redding deur te sê dat “almal ook in die Christus lewend gemaak [sal] word”.

 Feit: Die konteks van hierdie vers bespreek die opstanding (1 Korintiërs 15:12, 13, 20, 21, 35). Die frase “almal [sal] in die Christus lewend gemaak word”, beteken eenvoudig dat almal wat opgewek word, hierdie seëning deur Jesus Christus ontvang.—Johannes 11:25.

 Wanopvatting: Titus 2:11 leer universele redding omdat dit sê dat God “redding tot alle mense bring”.—International Standard Version

 Feit: Die Griekse woord wat met “alle” in hierdie vers vertaal word, kan ook “alle soorte” beteken. d Die regte betekenis van Titus 2:11 is dus dat God redding beskikbaar stel aan alle soorte mense, insluitende mense “uit alle nasies en stamme en volke en tale”.—Openbaring 7:9, 10.

 Wanopvatting: Tweede Petrus 3:9 leer universele redding omdat dit sê dat God “nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie”.

 Feit: God wil hê dat mense gered moet word, maar hy dwing hulle nie om sy voorsiening vir redding te aanvaar nie. Sy “dag van die oordeel” sal die “vernietiging van die goddelose mense” insluit.—2 Petrus 3:7.

a Die Bybel sê dat ’n persoon “gered [is]” al moet hy of sy nog van sonde en die dood gered word.—Efesiërs 2:5; Romeine 13:11.

b In die tekste gebruik party vertalings die terme “kampioen”, “verlosser”, “held”, “leier” of selfs “iemand” eerder as “redder”. Maar in die oorspronklike Hebreeuse teks van die Bybel word dieselfde woord gebruik vir hierdie mense-redders as wanneer daar op ander plekke in die Bybel na Jehovah God as Redder verwys word.—Psalm 7:10.

c Die naam Jesus is afgelei van die Hebreeuse naam Jehoo·sjoeʹa, wat “Jehovah is my redding” beteken.

d Sien Vine’s Complete Expository Dictionary of Old and New Testament Words. Dieselfde Griekse woord verskyn in Matteus 5:11 wat Jesus se stelling bevat dat mense “allerhande” goddelose dinge teen sy volgelinge sou sê.​—International Standard Version.