Spring na inhoud

Hoekom het Jesus gesterf?

Hoekom het Jesus gesterf?

Die Bybel se antwoord

 Jesus het gesterf sodat mense se sondes vergewe kan word en hulle die ewige lewe kan kry (Romeine 6:23; Efesiërs 1:7). Jesus se dood het ook bewys dat mense aan God lojaal kan bly selfs al word hulle tot die dood getoets.—Hebreërs 4:15.

 Vind uit hoe die dood van een mens vir ons soveel kon beteken.

  1.   Jesus het gesterf vir “die vergifnis van ons sondes”.—Kolossense 1:14.

     Die eerste mens, Adam, was volmaak geskep, sonder sonde. Maar hy het gekies om aan God ongehoorsaam te wees. Adam se ongehoorsaamheid, of sonde, het ’n groot uitwerking op al sy nakomelinge gehad. Die Bybel verduidelik: “Baie [is] deur die ongehoorsaamheid van die een mens sondaars gemaak.”—Romeine 5:19.

     Jesus was ook volmaak, maar hy het nooit gesondig nie. Daarom kon hy “’n soenoffer vir ons sondes” wees (1 Johannes 2:2). Net soos Adam se ongehoorsaamheid die mensdom met sonde besmet het, het Jesus se dood die vlek van sonde verwyder van almal wat geloof in hom beoefen.

     Adam het eintlik die mensdom aan die sonde verkoop. Omdat Jesus bereid was om vir ons te sterf, het hy die mensdom teruggekoop en behoort ons nou aan hom. So “as iemand ’n sonde begaan, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus, ’n regverdige”.—1 Johannes 2:1.

  2.   Jesus het gesterf “sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê”.—Johannes 3:16.

     Hoewel Adam geskep is om vir ewig te lewe, is hy met die dood gestraf omdat hy gesondig het. Deur Adam het “die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde en die dood [het] só tot alle mense deurgedring . . . omdat hulle almal gesondig het”.—Romeine 5:12.

     Maar Jesus se dood het nie net die vlek van die sonde verwyder nie. Dit het ook beteken dat almal wat geloof in hom beoefen, nie meer die doodstraf sou kry nie. Die Bybel som dit soos volg op: “Net soos die sonde as koning geheers het saam met die dood, [het] die onverdiende goedhartigheid ook as koning [geheers] deur middel van regverdigheid met die ewige lewe in die vooruitsig deur middel van Jesus Christus, ons Here.”—Romeine 5:21.

     Mense lewe vandag natuurlik nie vir ewig nie. Maar God belowe dat hy die ewige lewe aan regverdige mense sal gee. En hy sal die dooies weer laat lewe sodat hulle ook deur Jesus se offerdood bevoordeel kan word.—Psalm 37:29; 1 Korintiërs 15:22.

  3.   Jesus het “gehoorsaam geword tot in die dood” wat bewys dat mense wel getrou aan God kan wees al word hulle getoets of al gaan hulle deur moeilike tye.—Filippense 2:8.

     Al het Adam ’n volmaakte verstand en liggaam gehad, was hy ongehoorsaam aan God omdat hy selfsugtig iets begeer het wat nie aan hom behoort het nie (Genesis 2:16, 17; 3:6). Later het God se grootste vyand, Satan, gesê dat mense net vir selfsugtige redes aan God gehoorsaam sou wees. En hulle sou hom glad nie gehoorsaam as hulle lewe op die spel is nie (Job 2:4). Maar die volmaakte man Jesus was lojaal en gehoorsaam aan God en het selfs ’n vernederende en pynlike dood gesterf (Hebreërs 7:26). Dit het eens en vir altyd bewys dat ’n mens aan God getrou kan bly selfs wanneer hy getoets word of deur moeilike tye gaan.

Vrae oor Jesus se dood

  •   Waarom moes Jesus ’n pynlike dood sterf om die mensdom terug te koop? Waarom het God nie net die doodstraf verwyder nie?

     God se wet sê: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood” (Romeine 6:23). God het nie hierdie wet vir Adam weggesteek nie. Hy het eerder vir Adam gesê dat die straf vir ongehoorsaamheid die dood is (Genesis 3:3). Toe Adam gesondig het, het God “wat nie kan lieg nie”, by sy woord gebly (Titus 1:2). Adam het nie net sonde aan sy nakomelinge oorgedra nie, maar ook die loon van die sonde—die dood.

     Hoewel sondige mense die doodstraf verdien, het God “die rykdom van sy onverdiende goedhartigheid” aan hulle bewys (Efesiërs 1:7). Sy voorsiening om die mensdom terug te koop—Jesus se volmaakte offerande—was nie net regverdig nie, maar ook uiters genadig.

  •   Wanneer het Jesus gesterf?

     Jesus het op “die negende uur” vanaf sonsopkoms, of omtrent drie uur die middag op die Joodse Pasga, gesterf (Markus 15:33-37). Volgens moderne kalenders val hierdie datum op Vrydag 1 April 33 HJ.

  •   Waar het Jesus gesterf?

     Jesus is doodgemaak by “die sogenaamde Skedelplek, wat in Hebreeus Golʹgota genoem word” (Johannes 19:17, 18). Hierdie plek was in Jesus se dag “buite die poort” van Jerusalem (Hebreërs 13:12). Dit kon dalk op ’n heuwel gewees het, want die Bybel sê dat party mense “van ’n afstand” gekyk het hoe Jesus tereggestel word (Markus 15:40). Maar niemand weet vandag presies waar Golgota is nie.

  •   Hoe het Jesus gesterf?

     Hoewel baie mense glo dat Jesus gekruisig is—aan ’n kruis doodgemaak is—sê die Bybel: “Hy het ons sondes in sy eie liggaam aan die boom gedra” (1 Petrus 2:24, King James Version). Bybelskrywers gebruik twee Griekse woorde wanneer hulle die voorwerp beskryf waarop Jesus tereggestel is—stau·rosʹ en xyʹlon. Baie geleerdes het die gevolgtrekking gemaak dat hierdie woorde na ’n regop paal verwys wat van een stuk hout gemaak is.

  •   Hoe moet Jesus se dood herdenk word?

     Op die aand van die jaarlikse Joodse Pasga was Jesus saam met sy volgelinge. Hy het toe ’n eenvoudige herdenking ingestel deur hulle te beveel: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (1 Korintiërs 11:24). Ure later is Jesus doodgemaak.

     Bybelskrywers het Jesus met die lam vergelyk wat op die Pasga geoffer is (1 Korintiërs 5:7). Net soos die Pasgaviering die Israeliete daaraan herinner het dat hulle van slawerny vrygekoop is, moet die Herdenking van Jesus Christus se dood Christene daaraan herinner dat hulle van sonde en die dood bevry is. Die Pasga was ’n jaarlikse viering, wat volgens die maankalender op 14 Nisan gehou moet word. Daarom het die vroeë Christene die Gedenkmaal een keer per jaar gehou.

     Elke jaar herdenk miljoene mense wêreldwyd Jesus se dood op die datum wat ooreenkom met 14 Nisan.