Spring na inhoud

Wat is die opstanding?

Wat is die opstanding?

Die Bybel se antwoord

 Die woord wat in die Bybel met “opstanding” vertaal word, kom van die Griekse a·naʹsta·sis, wat “om op te wek” of “om weer op te staan” beteken. Iemand wat opgewek word, word uit die dood tot die lewe herstel as die persoon wat hy voorheen was.—1 Korintiërs 15:12, 13.

 Hoewel die woord “opstanding” nie in die Hebreeuse Geskrifte, wat dikwels die Ou Testament genoem word, voorkom nie, verskyn die lering daar. Deur die profeet Hosea het God byvoorbeeld belowe: “Uit die hand van Sjeool [of, die graf] sal ek hulle loskoop; uit die dood sal ek hulle verlos.”—Hosea 13:14; Job 14:13-15; Jesaja 26:19; Daniël 12:2, 13.

 Waar sal mense opgewek word? Party mense word tot lewe in die hemel opgewek om saam met Christus as konings te heers (2 Korintiërs 5:1; Openbaring 5:9, 10). Die Bybel noem dit “die eerste opstanding” en “die vroeër opstanding”; albei uitdrukkings gee te kenne dat daar nog ’n opstanding sal wees (Openbaring 20:6; Filippense 3:11). Hierdie latere opstanding sal wees tot lewe op die aarde, wat die oorgrote meerderheid van die mense wat opgewek sal word, sal geniet.—Psalm 37:29.

 Hoe word mense opgewek? God gee Jesus die mag om die dooies op te wek (Johannes 11:25). Jesus sal “almal wat in die gedenkgrafte is”, opwek, elkeen met sy unieke identiteit, persoonlikheid en herinneringe (Johannes 5:28, 29). Diegene wat tot lewe in die hemel opgewek word, ontvang ’n geesliggaam, terwyl diegene wat tot lewe op die aarde opgewek word, ’n heeltemal gesonde, fisiese liggaam ontvang.—Jesaja 33:24; 35:5, 6; 1 Korintiërs 15:42-44, 50.

 Wie sal opgewek word? Die Bybel sê dat “daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Handelinge 24:15). Die regverdiges sluit getroue mense in, soos Noag, Sara en Abraham (Genesis 6:9; Hebreërs 11:11; Jakobus 2:21). Die onregverdiges sluit diegene in wat nie aan God se standaarde voldoen het nie, maar nie die geleentheid gehad het om dit te leer en te volg nie.

 Maar diegene wat so goddeloos word dat hulle nie hervorm kan word nie, sal nie opgewek word nie. Wanneer hulle sterf, ondergaan hulle ewige vernietiging met geen hoop op ’n opstanding nie.—Matteus 23:33; Hebreërs 10:26, 27.

 Wanneer sal die opstanding plaasvind? Die Bybel het voorspel dat die opstanding tot hemelse lewe gedurende Christus se teenwoordigheid, wat in 1914 begin het, sou plaasvind (1 Korintiërs 15:21-23). Die opstanding tot aardse lewe sal gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus plaasvind, wanneer die aarde in ’n paradys omskep sal word.—Lukas 23:43; Openbaring 20:6, 12, 13.

 Waarom is dit redelik om aan die opstanding te glo? Die Bybel bevat breedvoerige verslae van nege opstandings, wat almal deur ooggetuies bevestig is (1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37; 13:20, 21; Lukas 7:11-17; 8:40-56; Johannes 11:38-44; Handelinge 9:36-42; 20:7-12; 1 Korintiërs 15:3-6). Dat Jesus Lasarus opgewek het, is veral merkwaardig omdat Lasarus al vier dae dood was en Jesus die wonderwerk voor ’n skare verrig het (Johannes 11:39, 42). Selfs teenstanders van Jesus kon nie die feite ontken nie, en daarom het hulle saamgesweer om Jesus sowel as Lasarus dood te maak.—Johannes 11:47, 53; 12:9-11.

 Die Bybel toon dat God die vermoë asook die begeerte het om die dooies op te wek. In sy onbeperkte geheue hou hy ’n volledige verslag van elkeen wat hy deur middel van sy almag gaan opwek (Job 37:23; Matteus 10:30; Lukas 20:37, 38). God kán die dooies opwek, en hy wil hulle opwek! In ’n beskrywing van die komende opstanding sê die Bybel van God: “Na die werk van u hande sal u vurig verlang.”—Job 14:15.

Wanopvattings oor die opstanding

 Mite: Die opstanding is ’n hereniging van die siel met die liggaam.

 Feit: Die Bybel leer dat die siel die hele persoon is, nie net ’n sekere deel wat die dood oorleef nie (Genesis 2:7, voetnoot in NW; Esegiël 18:4). Iemand wat opgewek word, word nie met sy siel herenig nie; hy word as ’n lewende siel herskep.

 Mite: Party mense word opgewek en dan onmiddellik vernietig.

 Feit: Die Bybel se dat “dié wat veragtelike dinge beoefen het, . . . ’n opstanding van oordeel” sal ontvang (Johannes 5:29). Maar hulle word geoordeel op grond van wat hulle doen nadat hulle opgewek word, nie wat hulle voor hulle opstanding gedoen het nie. Jesus het gesê: “Die dooies [sal] die stem van die Seun van God . . . hoor, en dié wat gehoor gegee het, sal lewe” (Johannes 5:25). Die name van diegene wat ‘gehoor gee’, of gehoorsaam is, aan die dinge wat hulle leer nadat hulle opgewek word, sal in “die boekrol van die lewe” opgeteken word.—Openbaring 20:12, 13.

 Mite: Wanneer ’n persoon opgewek word, ontvang hy presies dieselfde liggaam wat hy gehad het voordat hy gesterf het.

 Feit: Ná sy dood het die persoon se liggaam waarskynlik ontbind en gedisintegreer.—Prediker 3:19, 20.