Spring na inhoud

Wie was die ryk man en wie was Lasarus?

Wie was die ryk man en wie was Lasarus?

Die Bybel se antwoord

 Die ryk man en Lasarus was karakters in ’n storie in een van Jesus se toesprake (Lukas 16:19-31). In die storie het hierdie mans twee groepe mense verteenwoordig: (1) die trotse Joodse godsdiensleiers van Jesus se dag en (2) die nederige maar opregte mense wat na Jesus se boodskap geluister het.

In hierdie artikel

 Wat het Jesus oor die ryk man en Lasarus gesê?

 In Lukas hoofstuk 16 praat Jesus van twee mans wie se omstandighede baie verander het.

 Hier is ’n opsomming van die storie wat Jesus vertel het: ’n Ryk man het in weelde gelewe. ’n Bedelaar met die naam Lasarus is by die ryk man se poort neergesit. Hy het gehoop om enige kos te kry wat van die ryk man se tafel afgeval het. Later het Lasarus gesterf, en die engele het hom weggedra na ’n plek langs Abraham. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. In die storie is albei mans nog bewus van wat om hulle gebeur nadat hulle gesterf het. Die dooie, ryk man was gepynig in ’n vlammende vuur en het vir Abraham gevra om vir Lasarus te stuur om die punt van sy vinger in water te steek en die ryk man se tong af te koel. Abraham wou dit nie doen nie en het gesê dat albei mans se omstandighede heeltemal verander het en dat daar ’n groot kloof tussen die twee mans gevorm het wat hulle nie kon oorsteek nie.

 Het hierdie storie regtig gebeur?

 Nee. Dit is ’n illustrasie wat Jesus vertel het om sy volgelinge te help om ’n les te leer. Geleerdes erken die feit dat hierdie storie ’n illustrasie was. Byvoorbeeld, ’n onderhofie in die 1912-uitgawe van Luther se Bybel sê dat dit ’n illustrasie is. En die Katolieke Jerusalem Bible sê in ’n voetnoot dat dit ’n “gelykenis is in die vorm van ’n storie sonder verwysing na enige werklike persoon”.

 Was Jesus besig om vir mense lesse te leer oor lewe ná die dood? Het hy bedoel dat party mense in ’n helse vuur gestraf word wanneer hulle sterf en dat Abraham en Lasarus in die hemel was? ’n Hele paar feite wys dat dit nie die geval kon wees nie.

 Byvoorbeeld:

  •   As die ryk man in ’n letterlike plek gebrand het, sou die water op Lasarus se vingerpunt nie verdamp het as gevolg van die vuur nie?

  •   Selfs al het dit nie verdamp nie, sou ’n enkele druppel water vir die ryk man verligting gebring het van sy pyn en lyding in ’n letterlike vuur?

  •   Hoe kon Abraham in die hemel gelewe het, aangesien Jesus duidelik gesê het dat toe hy op die aarde was, daar nog niemand hemel toe gegaan het nie? – Johannes 3:13.

 Ondersteun hierdie storie die leerstelling van die helse vuur?

 Nee. Al het hierdie storie nie werklik plaasgevind nie, sê party dat dit die idee simboliseer dat goeie mense hemel toe gaan en dat slegte mense in die helse vuur gestraf word. a

 Is dit redelik om dit te glo? Nee.

 Die leerstelling van die helse vuur stem nie ooreen met wat die Bybel sê oor die toestand van die dooies nie. Dit sê byvoorbeeld nie dat goeie mense wat sterf ’n gelukkige lewe in die hemel geniet of dat slegte mense in die helse vuur gestraf word nie. Die Bybel sê duidelik: “Die lewendes weet dat hulle sal sterf, maar die dooies weet absoluut niks nie.” – Prediker 9:5.

 Wat beteken die storie oor die ryk man en Lasarus?

 Die storie wys dat die omstandighede van twee groepe mense binnekort baie sou verander.

 Die ryk man het heel moontlik die Joodse godsdiensleiers gesimboliseer, “wat lief was vir geld” (Lukas 16:14). Hulle het na Jesus geluister terwyl hy gepraat het, maar hulle was gekant teen sy boodskap. Hierdie godsdiensleiers het neergekyk op die gewone mense. – Johannes 7:49.

 Lasarus het die gewone mense gesimboliseer wat Jesus se boodskap aanvaar het, en hulle was deur die Joodse godsdiensleiers gehaat.

 Die verandering in omstandighede was baie groot vir albei groepe.

  •   Die Joodse godsdiensleiers het gedink dat hulle God se goedkeuring geniet het. Maar dit was asof hulle gesterf het toe God hulle en hulle vorm van aanbidding verwerp het omdat hulle nie Jesus se boodskap aanvaar het nie. En die boodskap wat Jesus en sy volgelinge verkondig het, het vir hulle soos ’n straf gevoel. – Matteus 23:29, 30; Handelinge 5:29-33.

  •   Die gewone mense ­– wat al baie lank deur hulle godsdiensleiers afgeskeep was – het nou God se goedkeuring geniet. Baie mense het die skriftuurlike boodskap wat Jesus verkondig het, aanvaar, en dit het hulle gehelp. Hulle het nou die geleentheid gehad om God se goedkeuring vir ewig te geniet. – Johannes 17:3.

a Party Bybelvertalings gebruik die woord “hel” om te beskryf waar die ryk man was nadat hy gesterf het. Maar die oorspronklike Griekse woord (Hades) wat in Lukas 16:23 gebruik word, verwys na die mens se gemeenskaplike graf.