Spring na inhoud

Wie was Johannes die Doper?

Wie was Johannes die Doper?

Die Bybel se antwoord

 Johannes die Doper was ’n profeet van God (Lukas 1:76). Hy was net voor die einde van die eerste eeu VHJ gebore en het tot in die eerste eeu HJ gelewe. God het vir hom die opdrag gegee om die weg voor te berei vir die Messias, of Christus. Johannes het dit gedoen deur God se boodskap aan ander Jode te verkondig sodat hulle weer na God kon terugkeer. – Markus 1:1-4; Lukas 1:13, 16, 17.

 Johannes se boodskap sou opregte luisteraars help om Jesus van Nasaret as die beloofde Messias te identifiseer (Matteus 11:10). Johannes het sy luisteraars aangemoedig om berou te toon oor hulle sondes en om gedoop te word as ’n teken daarvan (Lukas 3:3-6). Johannes word die Doper genoem omdat hy baie mense gedoop het. Die belangrikste persoon wat deur Johannes gedoop is, was Jesus. – Markus 1:9. a

In hierdie artikel

 Wat het Johannes die Doper anders gemaak?

 Die werk wat hy sou doen, was voorspel: Deur sy predikingswerk het Johannes die profesie oor Jehovah se boodskapper vervul (Maleagi 3:1; Matteus 3:1-3). Hy het bewys dat hy die een sou wees wat “vir Jehovah ’n voorbereide volk gereed [sou] maak”. Dit wil sê, hy het die weg gebaan vir ander Jode om die boodskap van Jehovah se vernaamste verteenwoordiger, Jesus Christus, te aanvaar. – Lukas 1:17.

 Wat hy uitgerig het: Jesus het gesê dat “daar niemand groter as Johannes die Doper [is] nie. Tog is die persoon wat die kleinste in die Koninkryk van die hemel is, groter as hy” (Matteus 11:11). Johannes was nie net ’n profeet nie, maar ook die voorspelde “boodskapper”. Daarom was geen kneg van God wat voor hom gelewe het, as groter beskou nie. Jesus se woorde wys ook dat Johannes nie ’n koning in God se Koninkryk sal wees nie. b Hierdie getroue profeet het gesterf voordat Christus dit moontlik gemaak het vir mense om hemel toe te gaan (Hebreërs 10:19, 20). Maar Johannes sal in die Paradys op aarde lewe waaroor God se Koninkryk sal regeer, en hy sal die vooruitsig hê om vir ewig te lewe. – Psalm 37:29; Lukas 23:43.

 Wie was Johannes die Doper se ouers?

 Johannes se ouers was ’n getroude paartjie met die name Sagaria en Elisabet. Sagaria was ’n Joodse priester. Johannes se geboorte was ’n wonderwerk omdat sy ma onvrugbaar was, dit wil sê sy kon nie kinders kry nie. Sy en Sagaria was ook “al oud”. – Lukas 1:5-7, 13.

 Wie het die dood van Johannes die Doper veroorsaak?

 Koning Herodes Antipas het Johannes laat onthoof. Sy vrou, Herodias, het hom gevra om dit te doen. Sy het Johannes gehaat omdat hy vir Herodes, wat ’n sogenaamde Jood was, gesê het dat sy huwelik met haar onwettig onder die Joodse wet was. – Matteus 14:1-12; Markus 6:16-19.

 Was Johannes die Doper en Jesus mededingers?

 Daar is niks in Bybel wat hierdie idee ondersteun nie (Johannes 3:25-30). Om die waarheid te sê, Johannes het openlik erken dat dit sy verantwoordelikheid was om die weg vir die Messias voor te berei, nie om met hom te kompeteer nie. Johannes het gesê: “Ek doop in water sodat hy aan Israel bekend gemaak kan word.” Toe het hy bygevoeg: “Hy [is] die Seun van God” (Johannes 1:26-34). So Johannes was baie bly om te hoor dat Jesus suksesvol in sy bediening was.

a Jesus “het nooit gesondig nie” (1 Petrus 2:21, 22). Daarom is hy gedoop, nie omdat hy berou moes toon nie, maar omdat hy homself aangebied het om God se wil te doen. Dit het ingesluit dat Jesus sy lewe vir ons gegee het. – Hebreërs 10:7-10.

b Sien die artikel “Wie gaan hemel toe?