Spring na inhoud

Blue Planet Archive/Mark Conlin

IS DIT ONTWERP?

Hoe die grunion eiers lê

Hoe die grunion eiers lê

 Die klein vissie wat die California grunion genoem word, lê eiers op die Pasifiese strande van Kalifornië, VSA, en Baja California, Mexiko. Hierdie visse weet presies op watter dae en tye om hulle eiers te lê sodat die jong vissies kan oorleef.

 Dink hieraan: Grunions lê net hulle eiers gedurende die drie of vier nagte ná die hoogste gety wat veroorsaak word deur elke nuwe of volmaan. As hulle hulle eiers op die nagte voor die nuwe of volmaan lê, sou hulle eiers in die see deur die stygende getye weggespoel word, wat die sand van die strand ook wegspoel. Maar omdat hulle eiers lê net nadat die getye op hulle hoogste is – wanneer die golwe begin terugtrek en die sand terugspoel – is die eiers veilig onder ’n laag sand wat al hoe groter word.

Wally Skalij/Los Angeles Times via Getty Images

 En gedurende hulle broeityd in die lente en die somer is die hooggety in die nag altyd hoër as die hooggety in die dag. Dit laat die visse toe om hoër op met die strand te swem en beskerm die eiers teen die volgende hooggety.

 Om eiers te lê, wag grunions vir ’n groot golf om hulle op die strand uit te spoel en swem hulle so ver as moontlik totdat hulle op die sand is. Wanneer die water terugtrek, grawe die wyfie ’n gat met haar liggaam in die nat sand en begrawe sy haarself gedeeltelik met haar stert eerste. Terwyl sy haar eiers vyf tot agt sentimeter diep lê, bevrug een of meer mannetjies die eiers. Dan wikkel die vis sy liggaam na die water en gebruik hy die volgende golf om terug in die see te kom.

 Die eiers ontwikkel in die klam sand, maar die beweging van die golwe is nodig om hulle te help om uit te broei. Daarom, omtrent twee weke later, wanneer die gety weer op sy hoogste is, broei die babavissies uit, maar die eiers kan tot vier weke daar bly totdat die gety weer op sy hoogste is.

 Wat dink jy: Het die grunion se vermoë om te weet hoe en wanneer om eiers te lê deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?