Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Vegkuns was my lewe”

“Vegkuns was my lewe”
  • Gebore: 1962

  • Geboorteland: Verenigde State

  • Geskiedenis: Toegewy aan vegkuns

MY VERLEDE

 My oefenmaat se besering was baie erger as wat ek verwag het. Ek het hom per ongeluk op sy neus geskop. Ek het skuldig gevoel en begin wonder of ek moet aanhou met vegkuns. Hierdie fout het my ’n sport laat bevraagteken wat ek jare lank met passie beoefen het. Kom ek verduidelik eers hoe ek betrokke geraak het by vegkuns.

 Ek het naby Buffalo, New York, VSA, grootgeword in ’n vreedsame en streng Katolieke gesin. Ek het na Katolieke skole gegaan en was ’n altaardienaar. My ouers wou hê dat ek en my suster suksesvol in die lewe moes wees. Daarom het hulle my net toegelaat om sport ná skoolure te speel of om deeltyds te werk as ek goed gedoen het op skool. Dit het my gedwing om selfdissipline op ’n jong ouderdom te ontwikkel.

 Toe ek 17 jaar oud was, het ek begin om vegkuns te beoefen. Ek het jare lank drie ure per dag, ses dae per week geoefen. Elke week het ek ook baie ure daaraan spandeer om tegnieke en bewegings oor en oor in my gedagtes te oefen. Ek het ook na video’s gekyk oor hoe om te verbeter. Ek het dit geniet om te oefen terwyl ek geblinddoek is, selfs wanneer ek wapens gebruik het. Ek kon houtplanke of bakstene met een hou van my hand breek. Ek het baie goed gedoen in my sport en het trofeë in kompetisies gewen. Vegkuns het die belangrikste ding in my lewe geword.

 Ek het gedink dat ek suksesvol in die lewe was. Ek het met ’n honneursgraad aan universiteit gegradueer. Ek het vir ’n groot maatskappy as ’n rekenaarstelsel-ingenieur gewerk. Ek het werksvoordele geniet, ’n huis besit en ’n meisie gehad. Van buite af het my lewe wonderlik gelyk, maar ek het ingewikkelde vrae oor die lewe gehad.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 Om antwoorde op my vrae te kry, het ek twee keer ’n week kerk toe gegaan en tot God gebid om my te help. Toe het ’n gesprek met ’n vriend my lewe verander. Ek het gevra: “Het jy al ooit gewonder hoekom ons hier is? Daar is so baie probleme en soveel ongeregtigheid!” Hy het vir my gesê dat hy soortgelyke vrae gevra het en dat hy baie bevredigende antwoorde in die Bybel gekry het. Hy het vir my ’n boek met die naam Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe gegee. a Hy het verduidelik dat hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer het. Ek het eers gehuiwer omdat ek gedink het dat ek nie lektuur van ’n ander godsdiens moet lees nie. Maar my begeerte om antwoorde op my vrae te kry, het gemaak dat ek wou uitvind of wat die Getuies leer, sin maak.

 Dit het my verbaas om uit te vind wat die Bybel regtig leer. Ek het geleer dat God se oorspronklike doel vir die mens was om vir ewig in ’n paradys op aarde te lewe en dat God se doel nie verander het nie (Genesis 1:28). Dit het my verstom om God se naam, Jehovah, in my eie kopie van die King James-vertaling van die Bybel te sien. Dit het my ook verstom om te sien dat dit die naam was waaroor ek gebid het wanneer ek die Onse Vader-gebed opgesê het (Psalm 83:18; Matteus 6:9). Ek het uiteindelik verstaan hoekom God toelaat dat mense tydelik swaarkry. Alles wat ek geleer het, het soveel sin gemaak! Dit het my so opgewonde gemaak.

 Ek sal nooit vergeet hoe ek gevoel het toe ek begin het om vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon nie. Almal was vriendelik en wou weet wat my naam is. By my eerste vergadering is ’n spesiale openbare toespraak gehou oor watter soort gebede deur God verhoor word. Ek het belanggestel in hierdie onderwerp omdat ek tot God gebid het vir hulp. Hierna het ek die Herdenking van Jesus se dood bygewoon. By hierdie vergaderinge het dit my verbaas om te sien dat selfs kinders saam gevolg het in die Bybel as tekste gelees was. Aan die begin het ek nie geweet hoe om tekste te kry nie, maar die Getuies was baie behulpsaam en het my geleer hoe om die Bybel te gebruik.

 Hoe meer vergaderinge ek bygewoon het, hoe groter het my waardering geword vir die hoë standaard van die Getuies se onderrigting. Ek het baie geleer by elke vergadering, en dit het my altyd opgebou. Toe is ek ’n persoonlike Bybelstudie aangebied.

 Wat ek onder Jehovah se Getuies gesien het, was heeltemal anders as waaraan ek gewoond was in my kerk. Ek het gevind dat die Getuies ’n verenigde en opregte groep mense is wat hulle bes probeer om God gelukkig te maak. Ek het al hoe meer oortuig geword dat hulle die identifiserende kenmerk van ware Christene betoon, naamlik liefde vir mekaar. – Johannes 13:35.

 Hoe meer ek die Bybel gestudeer het, hoe meer veranderinge het ek gemaak om volgens die Bybel se standaarde te lewe. Maar ek het gevoel dat ek nooit vegkuns sou kon opgee nie. Ek was lief vir die sport en het baie daarvan gehou om aan kompetisies deel te neem. Toe ek dit vir die Getuie gesê het wat die Bybelstudie met my gehou het, het hy my vriendelik verseker: “Ek weet jy sal die regte besluit maak as jy net aanhou met jou studie.” Dit was net die regte woorde. Hoe meer ek gestudeer het, hoe meer wou ek Jehovah God gelukkig maak.

 ’n Keerpunt vir my was die geval wat ek aan die begin genoem het, toe ek ’n oefenmaat per ongeluk op sy neus geskop het. Daardie ongeluk het my ernstig laat dink oor of ek ’n vreedsame volgeling van Christus kon wees as ek aangehou het met vegkuns. Ek het geleer dat Jesaja 2:3, 4 voorspel het dat diegene wat Jehovah se onderrigting volg, ‘nie meer sal leer om oorlog te voer nie’. En Jesus het ander geleer om nie gewelddadig te wees, selfs al word hulle onregverdig behandel nie (Matteus 26:52). Daarom het ek opgehou om die sport waarvoor ek so lief was, te beoefen.

 Daarna het ek die Bybel se raad gevolg: “Werk . . . hard met toegewydheid aan God as jou doelwit” (1 Timoteus 4:7). Al die tyd en energie wat ek voorheen vir vegkuns gebruik het, het ek nou gebruik om nader aan God te kom en om Hom te dien. My meisie het nie saamgestem met wat ek in die Bybel geleer het nie, en daarom het ons uitmekaargegaan. Ek is op 24 Januarie 1987 as een van Jehovah se Getuies gedoop. Kort daarna het ek as ’n voltydse bedienaar begin dien en my tyd gewilliglik gebruik om ander oor die Bybel te leer. Van daardie tyd af het ek aangehou met die voltydse bediening, en ek het ’n ruk lank by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York, VSA, gedien.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 Toe ek die waarheid omtrent God geleer het, het ek gevind waarna ek gesoek het. Daar was nie meer ’n leemte in my lewe nie. Ek het eerder ’n betekenisvolle doel in die lewe en ’n regte hoop vir die toekoms, en ek voel werklik gelukkig. Ek geniet dit nog om gereeld te oefen, maar fisiese oefening is nie meer die belangrikste ding in my lewe nie. My prioriteit is nou om Jehovah God te dien.

 Toe ek vegkuns beoefen het, was ek heeltyd bewus van die mense om my en het ek altyd gedink aan hoe ek myself kon verdedig as iemand my sou aanval. Vandag is ek nog steeds bewus van die mense om my, maar vir ’n ander rede – om hulle te help. Die Bybel het my gehelp om ’n vrygewige persoon te word en om ’n beter man vir my pragtige vrou, Brenda, te wees.

 Vegkuns was my lewe. Maar ek het dit met iets beters vervang. Die Bybel beskryf dit die beste: “Fisiese oefening het min voordeel, maar toegewydheid aan God is voordelig vir alles, want dit hou ’n belofte in vir die lewe wat ons nou het en die lewe wat sal kom.” – 1 Timoteus 4:8.

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar word nie meer gedruk nie.