Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Voorwoord

Voorwoord

Liewe Leser:

Voel jy na aan God? Vir baie klink dit eenvoudig onmoontlik. Party meen dat hy te ver van ons af is; ander voel heeltemal onwaardig. Maar die Bybel spoor ons liefdevol aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Hy verseker selfs sy aanbidders: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas, ek wat vir jou sê: ‘Moenie bang wees nie. Ek sal jou help.’”—Jesaja 41:13.

Wat moet ons doen om so ’n intieme verhouding met God te verkry? Enige vriendskapsband wat ons smee, is gegrond op kennis van die persoon en bewondering en waardering vir sy unieke eienskappe. Dit is derhalwe noodsaaklik dat ons ’n studie maak van God se eienskappe en weë, soos dit in die Bybel geopenbaar word. As ons nadink oor hoe Jehovah elkeen van sy eienskappe openbaar, sien hoe Jesus Christus hulle volmaak weerspieël het en verstaan hoe ons hulle ook kan aankweek, sal dit ons nader aan God laat kom. Ons sal sien dat Jehovah die regmatige en volmaakte Soewerein van die heelal is. Wat meer is, hy is die Vader wat ons almal nodig het. Hy is sterk, regverdig, wys en liefdevol en verlaat nooit sy getroue kinders nie.

Mag hierdie boek jou help om steeds nader aan Jehovah God te kom, om ’n band met hom te smee wat nooit verbreek sal word nie, sodat jy hom vir ewig sal kan loof.

Die Uitgewers