Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 8

Herstellingskrag—Jehovah “maak alles nuut”

Herstellingskrag—Jehovah “maak alles nuut”

1, 2. Watter verliese tref die mensdom vandag, en hoe raak dit ons?

’N KIND verloor of breek ’n gunstelingspeelding en bars in trane uit. Wat ’n hartverskeurende geluid! Maar het jy al gesien hoe ’n kind se gesig verhelder wanneer ’n ouer die verlore ding terugbesorg? Vir die ouer is dit dalk maklik om die speelding te vind of om dit selfs heel te maak. Maar die kind glimlag van oor tot oor en is vol verwondering. Wat hy gedink het vir altyd weg is, is terug!

2 Jehovah, die allerbeste Ouer, het die vermoë om terug te besorg wat sy aardse kinders miskien dink heeltemal verlore is. Ons verwys natuurlik nie na blote speelgoed nie. In hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, ly ons baie ernstiger verliese (2 Timoteus 3:1-5). Dit lyk of baie van die dinge wat vir mense kosbaar is, voortdurend bedreig word—hulle huis, besittings, werk, selfs hulle gesondheid. Dit ontstel ons moontlik ook wanneer ons dink aan die vernietiging van die omgewing en die gevolglike verlies van baie spesies. Maar niks tref ons so hard soos die dood van ’n geliefde nie. Die gevoel van verlies en magteloosheid kan oorweldigend wees.—2 Samuel 18:33.

3. Watter vertroostende vooruitsig word in Handelinge 3:21 uiteengesit, en deur middel waarvan sal Jehovah dit vervul?

3 Hoe vertroostend is dit dan om van Jehovah se herstellingskrag te leer! Soos ons sal sien, is die omvang van wat God vir sy aardse kinders kan en sal herstel, verstommend. Trouens, die Bybel toon dat Jehovah van voorneme is om ‘alles te herstel’ (Handelinge 3:21). Jehovah sal dit doen deur middel van die Messiaanse Koninkryk, met sy Seun, Jesus Christus, as koning. Die getuienis toon dat hierdie Koninkryk in 1914 in die hemel begin heers het (Matteus 24:3-14). * Wat sal herstel word? Kom ons kyk na ’n paar van Jehovah se wonderlike herstellingsdade. Een hiervan kan ons alreeds sien en ervaar. Ander sal in die toekoms op groot skaal plaasvind.

Die herstelling van rein aanbidding

4, 5. Wat het in 607 v.G.J. met God se volk gebeur, en watter hoop het Jehovah hulle gegee?

4 Iets wat Jehovah reeds herstel het, is rein aanbidding. Kom ons ondersoek kortliks die geskiedenis van die koninkryk van Juda om te verstaan wat dit beteken. Dit sal ons opwindende insig gee in hoe Jehovah se herstellingskrag werk.—Romeine 15:4.

5 Stel jou net voor hoe getroue Jode in 607 v.G.J. moes gevoel het toe Jerusalem vernietig is. Hulle geliefde stad was verwoes, sy mure was afgebreek. Nog erger, die glorieryke tempel wat Salomo gebou het, die enigste sentrum vir die rein aanbidding van Jehovah op die hele aarde, het in puin gelê (Psalm 79:1). Die oorlewendes is in ballingskap na Babilon weggevoer, en hulle vaderland het ’n verlate woonplek van wilde diere geword (Jeremia 9:11). Uit ’n menslike standpunt gesien, het alles verlore gelyk (Psalm 137:1). Maar Jehovah, wat lank tevore hierdie vernietiging voorspel het, het hulle die hoop gegee dat ’n tyd van herstelling voorgelê het.

6-8. (a) Watter tema kom oor en oor in die geskrifte van die Hebreeuse profete voor, en hoe is hierdie profesieë aanvanklik vervul? (b) Hoe het God se volk in hedendaagse tye die vervulling van baie herstellingsprofesieë ondervind?

6 Trouens, herstelling is ’n tema wat oor en oor in die geskrifte van die Hebreeuse profete voorkom. * Deur hulle het Jehovah ’n herstelde land belowe wat herbevolk en vrugbaar sou wees en teen wilde diere en vyandelike aanvalle beskerm sou word. Hy het hulle herstelde land as ’n ware paradys beskryf! (Jesaja 65:25; Esegiël 34:25; 36:35). Bowenal sou rein aanbidding herstel word, en die tempel sou herbou word (Miga 4:1-5). Hierdie profesieë het die Jode in ballingskap hoop gegee en hulle gehelp om hulle 70 jaar lange gevangenskap in Babilon te verduur.

7 Uiteindelik het die tyd vir die herstelling aangebreek. Die Jode is uit Babilon bevry en het na Jerusalem teruggekeer en Jehovah se tempel daar herbou (Esra 1:1, 2). Solank hulle rein aanbidding beoefen het, het Jehovah hulle geseën en hulle land vrugbaar en voorspoedig gemaak. Hy het hulle beskerm teen vyande en teen die wilde diere waarvan hulle land dekades lank gewemel het. Hoe moes hulle hulle tog in Jehovah se herstellingskrag verheug het! Maar hierdie gebeure was slegs ’n aanvanklike, beperkte vervulling van die herstellingsprofesieë. ’n Groter vervulling sou “aan die einde van die dae”, in ons tyd, plaasvind, wanneer die langbeloofde Erfgenaam van koning Dawid op die troon geplaas word.—Jesaja 2:2-4; 9:6, 7.

8 Kort nadat Jesus in 1914 in die hemelse Koninkryk op die troon geplaas is, het hy aandag gegee aan die geestelike behoeftes van God se getroue knegte op aarde. Net soos die Persiese oorwinnaar Kores in 537 v.G.J. ’n oorblyfsel Jode uit Babilon bevry het, het Jesus ’n oorblyfsel geestelike Jode—sy voetstapnavolgers—bevry van die invloed van ’n hedendaagse Babilon, die wêreldryk van valse godsdiens (Romeine 2:29; Openbaring 18:1-5). Van 1919 af is rein aanbidding tot sy regmatige plek in die lewens van ware Christene herstel (Maleagi 3:1-5). Sedertdien het Jehovah se volk hom aanbid in sy gereinigde geestelike tempel—God se reëling vir rein aanbidding. Waarom is dit vandag vir ons belangrik?

Geestelike herstelling—Waarom dit belangrik is

9. Wat het die kerke van die Christendom ná die apostoliese tydperk met die aanbidding van God gedoen, maar wat het Jehovah in ons dag gedoen?

9 Beskou die geskiedkundige perspektief. Eerste-eeuse Christene het baie geestelike seëninge geniet. Maar Jesus en die apostels het voorspel dat ware aanbidding verderf sou word en sou verdwyn (Matteus 13:24-30; Handelinge 20:29, 30). Ná die apostoliese tydperk het die Christendom ontstaan. Sy geestelikes het heidense leringe en gebruike aangeneem. Hulle het dit ook vir mense feitlik onmoontlik gemaak om God te nader deur hom as ’n onverstaanbare Drie-eenheid voor te stel en mense te leer om aan priesters te bieg en tot Maria en verskeie “heiliges” te bid in plaas van tot Jehovah. Wat het Jehovah nou, ná baie eeue van hierdie verdorwenheid, gedoen? Hy het in vandag se wêreld—’n wêreld vol godsdiensleuens en wat besoedel is met goddelose gebruike—ingegryp en rein aanbidding herstel! Sonder om te oordryf, kan ons sê dat hierdie herstelling een van die belangrikste gebeure in hedendaagse tye is.

10, 11. (a) Watter twee elemente het die geestelike paradys, en hoe raak dit jou? (b) Watter soort mense het Jehovah in die geestelike paradys versamel, en wat sal hulle die voorreg hê om te aanskou?

10 Ware Christene geniet dus vandag ’n geestelike paradys. Wat behels hierdie paradys? Dit het hoofsaaklik twee elemente. Die eerste is die rein aanbidding van die ware God, Jehovah. Hy het ons geseën met ’n vorm van aanbidding wat vry is van leuens en verdraaiings. Hy het ons geseën met geestelike voedsel. Dit stel ons in staat om van ons hemelse Vader te leer, om hom te behaag en om nader aan hom te kom (Johannes 4:24). Die tweede element van die geestelike paradys het te doen met mense. Soos Jesaja voorspel het, het Jehovah sy aanbidders “aan die einde van die dae” die weë van vrede geleer. Hy het ’n einde gemaak aan oorlogvoering onder ons. Ondanks ons onvolmaakthede help hy ons om ons met “die nuwe persoonlikheid” te beklee. Hy seën ons pogings deur sy heilige gees aan ons te gee, wat pragtige vrugte in ons voortbring (Efesiërs 4:22-24; Galasiërs 5:22, 23). As jy in ooreenstemming met God se gees werk, is jy waarlik deel van die geestelike paradys.

11 Jehovah het in hierdie geestelike paradys die soort mense versamel wat hy liefhet—mense wat hom liefhet, wat vrede liefhet en wat “bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Dit is die soort mense wat die voorreg sal hê om ’n selfs skouspelagtiger herstelling te aanskou—dié van die mensdom en van die hele aarde.

“Kyk! Ek maak alles nuut”

12, 13. (a) Waarom moet die herstellingsprofesieë nog ’n vervulling hê? (b) Wat is Jehovah se voorneme met die aarde soos hy dit in Eden uiteengesit het, en waarom gee dit ons hoop vir die toekoms?

12 Baie van die herstellingsprofesieë verwys blykbaar nie net na ’n geestelike herstelling nie. Jesaja het byvoorbeeld geskryf van ’n tyd wanneer die siekes, die kreupeles, die blindes en die dowes genees sou word en selfs die dood vir ewig verswelg sou word (Jesaja 25:8; 35:1-7). Hierdie beloftes het nie ’n letterlike vervulling in eertydse Israel gehad nie. En hoewel ons in ons dag ’n geestelike vervulling van hierdie beloftes sien, bestaan daar alle rede om te glo dat daar in die toekoms ’n letterlike, algehele vervulling sal wees. Hoe weet ons dit?

13 Jehovah het destyds in Eden sy voorneme met die aarde duidelik gemaak: Dit moes deur ’n gelukkige, gesonde, verenigde mensegesin bewoon word. Die man en sy vrou moes na die aarde en al die skepsele daarin omsien, sodat die hele aarde ’n paradys kon word (Genesis 1:28). Dit is heeltemal anders as die toestande wat vandag heers. Maar ons kan seker wees dat Jehovah se voornemens nooit gedwarsboom word nie (Jesaja 55:10, 11). Jesus, as die Messiaanse Koning wat deur Jehovah aangestel is, sal hierdie wêreldwye Paradys tot stand bring.—Lukas 23:43.

14, 15. (a) Hoe sal Jehovah ‘alles nuut maak’? (b) Hoe sal die lewe in die Paradys wees, en waarna sien jy die meeste uit?

14 Stel jou voor hoe dit sal wees om te sien dat die hele aarde ’n paradys word! Jehovah sê van daardie tyd: “Kyk! Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5). Dink aan wat dit sal beteken. Wanneer Jehovah sy vernietigingskrag klaar teen hierdie goddelose ou stelsel uitgeoefen het, sal daar “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” oorbly. Dit beteken dat ’n nuwe regering vanuit die hemel sal regeer oor ’n nuwe aardse gemeenskap wat bestaan uit mense wat Jehovah liefhet en wat sy wil doen (2 Petrus 3:13). Satan, tesame met sy demone, sal buite aksie gestel word (Openbaring 20:3). Vir die eerste keer in duisende jare sal die mensdom vry wees van daardie verderflike, haatlike, negatiewe invloed. Die gevoel van verligting sal ongetwyfeld oorweldigend wees.

15 Uiteindelik sal ons na hierdie pragtige planeet kan omsien soos ons oorspronklik veronderstel was om te doen. Die aarde het natuurlike herstelkragte. Besoedelde mere en riviere kan hulleself reinig as die bron van besoedeling verwyder word; landskappe kan van oorlogskade herstel as die oorloë ophou. Wat ’n genot sal dit tog wees om in ooreenstemming met die natuur te werk en te help om die aarde in ’n tuinagtige park te omskep, ’n wêreldwye Eden met ’n eindelose verskeidenheid! Die mens sal in vrede met die hele skepping op die aarde lewe eerder as om diere- en plantlewe moedswillig uit te roei. Selfs kinders sal glad nie vir wilde diere bang hoef te wees nie.—Jesaja 9:6, 7; 11:1-9.

16. Hoe sal elke getroue persoon in die Paradys by die herstelling baat vind?

16 Ons sal ook as individue by die herstelling baat vind. Ná Armageddon sal die oorlewendes wêreldwyd wonderdadige genesings sien. Jesus sal, net soos toe hy op die aarde was, sy godgegewe krag gebruik om die blindes weer te laat sien, die dowes weer te laat hoor, die kreupeles en siekes gesond te maak (Matteus 15:30). Die bejaardes sal hulle verheug in hernieude jeugdige krag, gesondheid en energie (Job 33:25). Plooie sal verdwyn, ledemate sal nie meer krom wees nie en spiere sal hernieude krag hê. Alle getroue mense sal daarvan bewus wees dat die gevolge van sonde en onvolmaaktheid geleidelik afneem, verdwyn. Hoe sal ons Jehovah God tog bedank vir sy wonderdadige herstellingskrag! Kom ons kyk nou na ’n besonder aangrypende aspek van hierdie opwindende tyd van herstelling.

Die dooies word opgewek

17, 18. (a) Waarom het Jesus die Sadduseërs bestraf? (b) Watter omstandighede het daartoe gelei dat Elia Jehovah gevra het om ’n opstanding te verrig?

17 In die eerste eeu G.J. het party godsdiensleiers, wat Sadduseërs genoem is, nie in die opstanding geglo nie. Jesus het hulle bestraf met die woorde: “Julle vergis julle, omdat julle nie die Skrif en ook nie die krag van God ken nie” (Matteus 22:29). Ja, die Skrif openbaar dat Jehovah sulke herstellingskrag het. Hoe so?

18 Stel jou voor wat in Elia se dag gebeur het. ’n Weduwee het die slap liggaam van haar enigste kind in haar arms vasgehou. Die seun was dood. Dit moes ’n skok gewees het vir die profeet Elia, wat ’n ruk lank die weduwee se gas was. Hy het vroeër help verhoed dat hierdie kind van honger sterf. Elia het die seuntjie heel waarskynlik liefgekry. Die moeder was eenvoudig ontroosbaar. Hierdie seun was haar enigste lewende herinnering aan haar oorlede man. Sy het moontlik gehoop dat haar seun in haar oudag vir haar sou sorg. Die verwese weduwee het gedink dat sy dalk vir die een of ander oortreding in die verlede gestraf word. Elia kon dit nie verduur om te sien dat hierdie tragedie só vererger word nie. Hy het die lyk sagkens uit die moeder se arms geneem, dit na sy kamer opgedra en Jehovah God gevra om die kind se siel, of lewe, te laat terugkeer.—1 Konings 17:8-21.

19, 20. (a) Hoe het Abraham getoon dat hy geloof in Jehovah se herstellingskrag gehad het, en wat was die grondslag van hierdie geloof? (b) Hoe het Jehovah Elia se geloof beloon?

19 Elia was nie die eerste persoon wat in die opstanding geglo het nie. Eeue vroeër het Abraham geglo dat Jehovah sulke herstellingskrag het—en hy het goeie rede gehad om dit te glo. Toe Abraham 100 jaar oud was en Sara 90, het Jehovah hulle voortplantingsvermoëns, wat dood was, herstel en Sara op wonderdadige wyse in staat gestel om aan ’n seun geboorte te gee (Genesis 17:17; 21:2, 3). Later, toe die seun volgroeid was, het Jehovah Abraham gevra om sy seun as offerande te bring. Abraham het geloof getoon en gereken dat Jehovah sy geliefde Isak weer lewend sou kon maak (Hebreërs 11:17-19). Hierdie sterk geloof verklaar moontlik waarom Abraham, voordat hy teen die berg opgeklim het om sy seun te offer, sy diensknegte verseker het dat hy en Isak saam sou terugkeer.—Genesis 22:5.

“Kyk, jou seun lewe”!

20 Jehovah het Isak gespaar, en daarom was ’n opstanding toe nie nodig nie. Maar in Elia se geval was die weduwee se seun reeds dood—maar nie vir lank nie. Jehovah het die profeet se geloof beloon deur die kind op te wek! Elia het toe die seun aan sy moeder gegee, met hierdie onvergeetlike woorde: “Kyk, jou seun lewe”!—1 Konings 17:22-24.

21, 22. (a) Wat was die doel van die opstandings wat in die Skrif opgeteken is? (b) Hoe omvattend sal die opstanding in die Paradys wees, en wie sal dit verrig?

21 Hier sien ons vir die eerste keer in die Bybelverslag hoe Jehovah sy krag gebruik het om ’n mens weer lewend te maak. Later het Jehovah ook aan Elisa, Jesus, Paulus en Petrus die krag gegee om die dooies op te wek. Dié wat opgewek is, het natuurlik later weer gesterf. Nietemin gee hierdie Bybelverslae ons ’n wonderlike voorskou van toekomstige dinge.

22 In die Paradys sal Jesus sy rol as “die opstanding en die lewe” vervul (Johannes 11:25). Hy sal tallose miljoene opwek en hulle die geleentheid gee om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe (Johannes 5:28, 29). Stel jou die herenigings voor wanneer geliefde vriende en familielede, wat lank deur die dood geskei was, mekaar omhels, heeltemal oorstelp van vreugde! Die hele mensdom sal Jehovah loof vir sy herstellingskrag.

23. Wat was die allergrootste vertoning van Jehovah se krag, en hoe is dit ’n waarborg vir ons hoop vir die toekoms?

23 Jehovah het ’n rotsvaste waarborg voorsien dat hierdie hoop seker is. In die allergrootste vertoning van sy krag het hy sy Seun, Jesus, as ’n magtige geesskepsel opgewek en hom slegs aan Jehovah ondergeskik gemaak. Die verrese Jesus het aan honderde ooggetuies verskyn (1 Korintiërs 15:5, 6). Hierdie getuienis behoort selfs vir skeptici genoeg te wees. Jehovah het die krag om mense weer lewend te maak.

24. Waarom kan ons seker wees dat Jehovah die dooies sal opwek, en watter hoop kan elkeen van ons koester?

24 Jehovah het nie net die krag om die dooies op te wek nie, maar hy het ook die begeerte om dit te doen. Die getroue man Job is geïnspireer om te sê dat Jehovah vurig verlang om die dooies terug te bring (Job 14:15). Voel jy nie aangetrokke tot ons God, wat gretig is om sy herstellingskrag op so ’n liefdevolle manier te gebruik nie? Onthou egter dat die opstanding maar net een aspek van Jehovah se groot herstellingswerk vir die toekoms is. Terwyl jy steeds nader aan hom kom, moet jy altyd die kosbare hoop koester dat jy daar sal wees om te sien hoe Jehovah ‘alles nuut maak’.—Openbaring 21:5.

^ par. 3 “Die tye van die herstel van alles” het begin toe die Messiaanse Koninkryk opgerig is met ’n erfgenaam van getroue koning Dawid op die troon. Jehovah het aan Dawid belowe dat een van sy erfgename vir ewig sou heers (Psalm 89:35-37). Maar nadat Babilon Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig het, het geen menslike afstammeling van Dawid op God se troon gesit nie. Jesus, wat as ’n erfgenaam van Dawid op die aarde gebore is, het die langbeloofde Koning geword toe hy in die hemel op die troon geplaas is.

^ par. 6 Moses, Jesaja, Jeremia, Esegiël, Hosea, Joël, Amos, Obadja, Miga en Sefanja het byvoorbeeld almal hierdie tema ontwikkel.