Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 3

“Heilig, heilig, heilig is Jehovah”

“Heilig, heilig, heilig is Jehovah”

1, 2. Watter visioen het die profeet Jesaja ontvang, en wat leer dit ons van Jehovah?

JESAJA was met ontsag vervul toe hy die toneel voor hom sien—’n visioen van God af. Dit was so werklik! Jesaja het later geskryf dat hy ‘Jehovah gesien het’ waar Hy op sy verhewe troon sit. Jehovah se lang, wye kleed het die enorme tempel in Jerusalem gevul.—Jesaja 6:1, 2.

2 Jesaja was ook met ontsag vervul as gevolg van wat hy gehoor het—sang wat so kragtig was dat dit selfs die tempel se fondamente geskud het. Die sang het gekom van serafs, geesskepsele wat ’n baie hoë rang beklee. Hulle kragtige, harmonieuse sang het sinryke woorde laat weerklink: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah van die leërs. Die volheid van die hele aarde is sy heerlikheid” (Jesaja 6:3, 4). Die feit dat die woord “heilig” drie keer gesing is, het besondere klem daaraan gegee, en dit is gepas, want Jehovah is heilig in die hoogste graad (Openbaring 4:8). Jehovah se heiligheid word dwarsdeur die Bybel beklemtoon. Honderde verse verbind sy naam met die woorde “heilig” en “heiligheid”.

3. Waarom laat verkeerde beskouings van Jehovah se heiligheid baie mense God die rug toekeer in plaas van nader aan hom te kom?

3 Dit is dus duidelik dat een van die vernaamste dinge wat Jehovah wil hê ons omtrent hom moet verstaan, is dat hy heilig is. Tog word baie mense vandag deur hierdie gedagte afgestoot. Party assosieer heiligheid verkeerdelik met selfvoldaanheid of valse vroomheid. Mense wat ’n negatiewe beskouing van hulleself het, vind miskien dat God se heiligheid hulle eerder afskrik as aantrek. Hulle is dalk bang dat hulle nooit waardig genoeg sal wees om nader aan hierdie heilige God te kom nie. Gevolglik keer baie mense God die rug toe weens sy heiligheid. Dit is jammer, want God se heiligheid is in werklikheid ’n dwingende rede waarom ons nader aan hom moet kom. Hoe so? Voordat ons dié vraag beantwoord, moet ons eers bespreek wat ware heiligheid is.

Wat is heiligheid?

4, 5. (a) Wat beteken heiligheid, en wat beteken dit nie? (b) In watter twee belangrike opsigte is Jehovah ‘afgesonderd’?

4 Die feit dat God heilig is, beteken nie dat hy selfvoldaan of trots is of ander minag nie. Inteendeel, hy haat sulke eienskappe (Spreuke 16:5; Jakobus 4:6). Wat beteken die woord “heilig” dan in werklikheid? In Bybelse Hebreeus is die woord afgelei van ’n term wat “afsonder” beteken. In aanbidding word “heilig” toegepas op iets wat afgesonder is van dinge vir gewone gebruik, of op iets wat as heilig beskou word. Heiligheid dra ook die gedagte van reinheid en suiwerheid sterk oor. Hoe is hierdie woord op Jehovah van toepassing? Beteken dit dat hy ‘afgesonderd’ is van onvolmaakte mense, ver verwyderd van ons?

5 Glad nie. As “die Heilige van Israel” het Jehovah gesê dat hy ‘in die midde’ van sy volk woon, hoewel hulle sondige mense was (Jesaja 12:6; Hosea 11:9). Sy heiligheid maak hom dus nie afsydig nie. Hoe is hy dan ‘afgesonderd’? In twee belangrike opsigte. Eerstens, hy is afgesonderd van die hele skepping deurdat hy alleen die Allerhoogste is. Sy suiwerheid, sy reinheid, is absoluut en oneindig (Psalm 40:5; 83:18). Tweedens, Jehovah is heeltemal afgesonderd van alle sondigheid, en dit is ’n vertroostende gedagte. Waarom?

6. Waarom kan die feit dat Jehovah absoluut afgesonderd van sondigheid is, ons vertroos?

6 Ons lewe in ’n wêreld waar ware heiligheid seldsaam is. Alles omtrent die mensegemeenskap wat van God vervreemd is, is op die een of ander manier verontreinig, besmet met sonde en onvolmaaktheid. Ons almal moet stry teen die sonde in ons. En ons almal loop gevaar om deur sonde oorweldig te word as ons nie op ons hoede bly nie (Romeine 7:15-25; 1 Korintiërs 10:12). Jehovah loop geensins hierdie gevaar nie. Omdat hy heeltemal afgesonderd van sondigheid is, sal hy nooit met die geringste spoor van sonde besmet word nie. Dit herbevestig ons indruk van Jehovah as die volmaakte Vader, want dit beteken dat hy volkome betroubaar is. In teenstelling met talle sondige menslike vaders sal Jehovah nooit verdorwe, bandeloos of wreed raak nie. Sy heiligheid maak so iets heeltemal onmoontlik. Jehovah het by tye selfs by sy heiligheid gesweer, want niks kan betroubaarder wees nie (Amos 4:2). Is dit nie gerusstellend nie?

7. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah inherent heilig is?

7 Jehovah is inherent heilig. Wat beteken dit? Ter toeligting: Beskou die woorde “mens” en “onvolmaak”. Jy kan eersgenoemde nie beskryf sonder om aan laasgenoemde te dink nie. Onvolmaaktheid is deel van ons en beïnvloed alles wat ons doen. Beskou nou twee heeltemal ander woorde—“Jehovah” en “heilig”. Heiligheid is deel van Jehovah. Alles omtrent hom is rein, suiwer en reg. Ons kan nie verstaan watter soort persoon Jehovah werklik is as ons nie hierdie betekenisvolle woord—“heilig”—ondersoek en verstaan nie.

“Heiligheid behoort aan Jehovah”

8, 9. Wat toon dat Jehovah onvolmaakte mense help om in ’n relatiewe sin heilig te word?

8 Aangesien Jehovah die verpersoonliking van die eienskap heiligheid is, kan daar tereg gesê word dat hy die bron van alle heiligheid is. Hy hou hierdie kosbare eienskap nie selfsugtig vir homself nie; hy gee dit aan ander, en hy gee dit mildelik. Toe God deur middel van ’n engel met Moses by die brandende bos gepraat het, het selfs die grond rondom heilig geword omdat dit ’n verbintenis met Jehovah gehad het!—Eksodus 3:5.

9 Kan onvolmaakte mense met Jehovah se hulp heilig word? Ja, in ’n relatiewe sin. God het aan sy volk Israel die vooruitsig gegee om “’n heilige nasie” te word (Eksodus 19:6). Hy het daardie nasie geseën met ’n stelsel van aanbidding wat heilig, rein en suiwer was. Heiligheid is dus ’n tema wat keer op keer in die Mosaïese Wet voorkom. Trouens, die hoëpriester het ’n goue plaat aan die voorkant van sy tulband gedra, waar almal dit in die lig kon sien blink. Daarop was die woorde gegraveer: “Heiligheid behoort aan Jehovah” (Eksodus 28:36). ’n Hoë standaard van reinheid en suiwerheid moes dus hulle aanbidding en ook hulle lewenswyse kenmerk. Jehovah het vir hulle gesê: “Julle moet heilig wees, want ek, Jehovah julle God, is heilig” (Levitikus 19:2). Solank die Israeliete volgens God se wette gelewe het sover dit vir onvolmaakte mense moontlik is, was hulle in ’n relatiewe sin heilig.

10. Watter teenstelling was daar tussen eertydse Israel en die omliggende nasies wat heiligheid betref?

10 Hierdie klem op heiligheid was in skerp teenstelling met die aanbidding van die nasies om Israel. Daardie heidense nasies het gode aanbid wie se blote bestaan ’n leuen en bedrog was, gode wat uitgebeeld is as gewelddadig, gierig en losbandig. Hulle was in elke moontlike opsig onheilig. Die aanbidding van sulke gode het mense onheilig gemaak. Jehovah het sy knegte dus gewaarsku om afgesonderd te bly van heidense aanbidders en hulle besoedelde godsdiensgebruike.—Levitikus 18:24-28; 1 Konings 11:1, 2.

11. Hoe kan die heiligheid van Jehovah se hemelse organisasie gesien word in (a) die engele? (b) die serafs? (c) Jesus?

11 Selfs onder die gunstigste omstandighede kon Jehovah se uitverkore nasie, eertydse Israel, net in geringe mate die heiligheid van God se hemelse organisasie weerspieël. Die miljoene geesskepsele wat God lojaal dien, word sy “heilige tienduisende” genoem (Deuteronomium 33:2; Judas 14). Hulle weerspieël die helder, suiwer prag van God se heiligheid volmaak. En dink terug aan die serafs wat Jesaja in sy visioen gesien het. Die inhoud van hulle lied dui aan dat hierdie magtige geesskepsele ’n belangrike rol daarin speel om Jehovah se heiligheid deur die ganse heelal bekend te maak. Een geesskepsel staan egter bo hulle almal uit—die enigverwekte Seun van God. Jesus is die hoogste weerspieëling van Jehovah se heiligheid. Hy staan tereg bekend as “die Heilige van God”.—Johannes 6:68, 69.

Heilige naam, heilige gees

12, 13. (a) Waarom word God se naam gepas as heilig beskryf? (b) Waarom moet God se naam geheilig word?

12 Wat van God se naam? Soos ons in Hoofstuk 1 gesien het, is daardie naam nie ’n blote titel of etiket nie. Dit verteenwoordig Jehovah God en omvat al sy eienskappe. Gevolglik sê die Bybel vir ons dat sy “naam heilig is” (Jesaja 57:15). Onder die Mosaïese Wet is iemand die doodstraf opgelê as hy God se naam ontheilig het (Levitikus 24:16). En let op wat Jesus heel eerste in gebed gemeld het: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Om iets te heilig, beteken om dit as heilig af te sonder en om dit te vereer, om dit as heilig hoog te hou. Maar waarom moet iets wat inherent so rein soos God se naam is, geheilig word?

13 God se heilige naam is geskend, beswadder met leuens en laster. In Eden het Satan ’n leuen oor Jehovah vertel en te kenne gegee dat Hy ’n onregverdige Soewerein is (Genesis 3:1-5). Sedertdien het Satan—die heerser van hierdie onheilige wêreld—seker gemaak dat leuens oor God vermenigvuldig het (Johannes 8:44; 12:31; Openbaring 12:9). Godsdienste het God voorgestel as eiemagtig, afsydig of wreed. Hulle het beweer dat hy hulle in hulle bloeddorstige oorloë steun. Blote toeval, of evolusie, is dikwels die eer vir God se wonderlike skeppingsdade gegee. Ja, God se naam is erg geskend. Dit moet geheilig word; die heerlikheid wat dit toekom, moet herstel word. Ons sien met vurige verlange uit na die heiliging van sy naam en die regverdiging van sy soewereiniteit, en ons is verheug dat ons hoegenaamd ’n rol in daardie wonderlike voorneme kan speel.

14. Waarom word God se gees heilig genoem, en waarom is laster teen die heilige gees so ernstig?

14 Daar is iets anders wat baie nou met Jehovah verbonde is en wat feitlik altyd heilig genoem word—sy gees, of werkende krag (Genesis 1:2). Jehovah gebruik hierdie onstuitbare krag om sy voornemens te verwesenlik. Omdat God alles wat hy doen, op ’n heilige, suiwer en rein manier uitvoer, word sy werkende krag gepas heilige gees, of gees van heiligheid, genoem (Lukas 11:13; Romeine 1:4). Laster teen die heilige gees, wat beteken dat Jehovah se voornemens doelbewus teëgewerk word, is ’n onvergeeflike sonde.—Markus 3:29.

Waarom Jehovah se heiligheid ons na hom toe aantrek

15. Waarom is godvrugtige vrees ’n gepaste reaksie op Jehovah se heiligheid, en wat behels dié vrees?

15 Dit is derhalwe nie moeilik om te sien waarom die Bybel toon dat daar ’n verband is tussen die heiligheid van God en godvrugtige vrees by mense nie. Psalm 99:3 sê byvoorbeeld: “Laat hulle u naam prys. Groot en vreesinboesemend, heilig is dit.” Dit is egter nie ’n morbiede vrees nie. Dit is eerder ’n diep gevoel van eerbiedige ontsag, respek in sy mees verhewe vorm. Dit is gepas om so te voel, aangesien God se heiligheid ver bo ons verhewe is. Dit is uitermate rein, glorieryk. Ons moet nogtans nie daardeur afgestoot word nie. Inteendeel, die regte beskouing van God se heiligheid sal ons nader aan hom laat kom. Waarom?

Net soos prag, moet heiligheid ons aantrek

16. (a) Hoe word heiligheid met luisterrykheid, of prag, verbind? Gee ’n voorbeeld. (b) Hoe beklemtoon beskrywings van Jehovah in visioene reinheid, suiwerheid en lig?

16 Om maar een ding te noem, die Bybel verbind heiligheid met luisterrykheid. In Jesaja 63:15 word die hemel beskryf as God se “verhewe woning van heiligheid en luisterrykheid”. Luisterrykheid, of prag, trek ons aan. Kyk byvoorbeeld na die prent op bladsy 33. Trek daardie toneel jou nie aan nie? Wat maak dit so aanloklik? Kyk hoe skoon lyk die water. Selfs die lug moet skoon wees, want die hemelruim is blou en die lig lyk of dit skitter. As dieselfde toneel nou sou verander—as die stroom vol vullis is, die bome en rotse met graffiti ontsier is, die lug met rookmis besoedel is—sal dit ons nie meer aantrek nie; dit sal ons afstoot. Dit is vir ons natuurlik om prag met reinheid, suiwerheid en lig te verbind. Dieselfde woorde kan gebruik word om Jehovah se heiligheid te beskryf. Geen wonder dat beskrywings van Jehovah in visioene ons boei nie! Stralend met lig, skitterend soos edelgesteentes, gloeiend soos vuur of die suiwerste en blinkste edelmetale—so is die luisterrykheid van ons heilige God.—Esegiël 1:25-28; Openbaring 4:2, 3.

17, 18. (a) Watter uitwerking het Jesaja se visioen aanvanklik op hom gehad? (b) Hoe het Jehovah ’n seraf gebruik om Jesaja te vertroos, en wat het die seraf se daad beteken?

17 Maar moet God se heiligheid ons minderwaardig laat voel? Die antwoord is natuurlik ja. Ons is immers ondergeskik aan Jehovah—om dit baie sag te stel. Moet hierdie wete ons van hom vervreem? Kyk na Jesaja se reaksie toe hy gehoor het hoe die serafs Jehovah se heiligheid verkondig. “Ek het gesê: ‘Wee my! Want ek is so goed as tot swye gebring, want ’n man onrein van lippe is ek, en ek woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, Jehovah van die leërs, gesien!’” (Jesaja 6:5). Ja, Jehovah se oneindige heiligheid het Jesaja herinner aan hoe sondig en onvolmaak hy is. Hierdie getroue man was aanvanklik heeltemal oorweldig. Maar Jehovah het hom nie in daardie toestand gelaat nie.

18 ’n Seraf het die profeet dadelik vertroos. Hoe? Die magtige gees het na die altaar gevlieg, ’n kool daarvan afgehaal en met die kool aan Jesaja se lippe geraak. Dit klink miskien meer pynlik as vertroostend. Maar onthou dat dit ’n visioen was, vol simboliese betekenis. Jesaja, ’n getroue Jood, het goed geweet dat daar elke dag offerandes op die tempelaltaar geoffer word om versoening vir sondes te doen. En die seraf het die profeet liefdevol daaraan herinner dat hy, hoewel hy onvolmaak, “onrein van lippe”, is, steeds ’n rein posisie voor God kon verkry. * Jehovah was bereid om ’n onvolmaakte, sondige man as heilig te beskou—ten minste in ’n relatiewe sin.—Jesaja 6:6, 7.

19. Hoe is dit vir ons moontlik om in ’n relatiewe sin heilig te wees, al is ons onvolmaak?

19 Dieselfde geld vandag. Al die offerandes wat op die altaar in Jerusalem geoffer is, was slegs ’n skaduwee van iets groters—die een volmaakte offerande wat in 33 G.J. deur Jesus Christus gebring is (Hebreërs 9:11-14). As ons werklik berou het oor ons sondes, ons verkeerde weg laat staan en geloof in daardie offerande beoefen, word ons vergewe (1 Johannes 2:2). Ook ons kan ’n rein posisie voor God geniet. Daarom herinner die apostel Petrus ons: “Daar staan geskrywe: ‘Julle moet heilig wees, want ek is heilig’” (1 Petrus 1:16). Let daarop dat Jehovah nie gesê het dat ons net so heilig soos hy moet wees nie. Hy verwag nooit die onmoontlike van ons nie (Psalm 103:13, 14). Jehovah sê eerder vir ons om heilig te wees, omdat hy heilig is. “As geliefde kinders” probeer ons hom navolg so goed as wat ons dit as onvolmaakte mense kan doen (Efesiërs 5:1). Om heiligheid te verkry, is dus ’n volgehoue proses. Terwyl ons geestelik groei, streef ons elke dag daarna om ‘heiligheid tot volmaaktheid te bring’.—2 Korintiërs 7:1.

20. (a) Waarom is dit belangrik om te verstaan dat ons rein kan wees in die oë van ons heilige God? (b) Watter uitwerking het dit op Jesaja gehad toe hy uitvind dat sy sondes versoen is?

20 Jehovah het dinge lief wat reg en suiwer is. Hy haat sonde (Habakuk 1:13). Maar hy haat ons nie. Solank ons dieselfde beskouing oor sonde het as hy—’n haat vir wat sleg is en liefde vir wat goed is—en probeer om in Christus Jesus se volmaakte voetstappe te volg, vergewe Jehovah ons sondes (Amos 5:15; 1 Petrus 2:21). As ons verstaan dat ons rein kan wees in die oë van ons heilige God, is die gevolge verreikend. Onthou dat Jehovah se heiligheid Jesaja aanvanklik aan sy eie onreinheid laat dink het. Hy het uitgeroep: “Wee my!” Maar toe hy besef dat sy sondes versoen is, het sy beskouing verander. Toe Jehovah ’n vrywilliger gesoek het om ’n opdrag uit te voer, het Jesaja homself onmiddellik aangebied, hoewel hy nie eens geweet het wat dit sou behels nie. Hy het uitgeroep: “Hier is ek! Stuur my.”—Jesaja 6:5-8.

21. Op grond waarvan het ons die vertroue dat ons heiligheid as eienskap kan aankweek?

21 Ons is na die beeld van die heilige God gemaak en is sedelike eienskappe sowel as ’n sin vir geestelikheid gegee (Genesis 1:26). Daar is potensiaal vir heiligheid in ons almal. Terwyl ons heiligheid aankweek, is Jehovah bly om te help. Ons sal terselfdertyd steeds nader aan ons heilige God kom. En wanneer ons Jehovah se eienskappe in die volgende hoofstukke ondersoek, sal ons sien dat daar talle kragtige redes is om nader aan hom te kom!

^ par. 18 Die uitdrukking “onrein van lippe” is gepas, want lippe word dikwels figuurlik in die Bybel gebruik om woorde of taal voor te stel. By alle onvolmaakte mense kan baie sondes toegeskryf word aan hoe ons ons spraakvermoë gebruik.—Spreuke 10:19; Jakobus 3:2, 6.