Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 2

Kan jy werklik ‘nader aan God kom’?

Kan jy werklik ‘nader aan God kom’?

1, 2. (a) Wat klink dalk vir baie mense vergesog, maar waarvan verseker die Bybel ons? (b) Watter intieme verhouding kon Abraham geniet, en waarom?

HOE sal jy voel as die Skepper van hemel en aarde van jou sê: “Dit is my vriend”? Vir baie mense klink dit dalk vergesog. Hoe kan ’n blote mens ooit ’n vriendskap met Jehovah God aanknoop? En tog verseker die Bybel ons dat ons werklik na aan God kan wees.

2 Abraham van die ou tyd het so ’n intieme verhouding met hom geniet. Jehovah het daardie aartsvader “my vriend” genoem (Jesaja 41:8). Ja, Jehovah het Abraham as ’n persoonlike vriend beskou. Abraham kon daardie intieme verhouding geniet omdat hy ‘geloof in Jehovah gestel het’ (Jakobus 2:23). Jehovah soek ook vandag geleenthede om ‘geheg te raak’ aan dié wat hom uit liefde dien (Deuteronomium 10:15). Sy Woord spoor ons aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Hierdie woorde bevat ’n uitnodiging sowel as ’n belofte.

3. Watter uitnodiging rig Jehovah aan ons, en watter belofte hou daarmee verband?

3 Jehovah nooi ons om nader aan hom te kom. Hy is gereed en gewillig om ons as vriende te aanvaar. En as ons stappe doen om nader aan hom te kom, beloof hy dat hy dieselfde sal doen. Hy sal nader aan ons kom. So kan ons iets waarlik kosbaars verkry—“intimiteit met Jehovah” (Psalm 25:14). * “Intimiteit” dra die gedagte oor van vertroulike gesprekke met ’n spesiale vriend.

4. Hoe sou jy ’n intieme vriend beskryf, en in watter opsig is Jehovah so ’n vriend vir dié wat nader aan hom kom?

4 Het jy ’n intieme vriend wat jy in jou vertroue kan neem? So ’n vriend is iemand wat vir jou omgee. Jy vertrou hom, want hy het sy lojaliteit bewys. Wanneer jy jou vreugdes met hom deel, verskaf dit jou selfs groter genot. Sy simpatieke oor verlig die las van jou leed. Al lyk dit of niemand anders jou verstaan nie, verstaan hy jou. Wanneer jy nader aan God kom, verkry jy eweneens ’n spesiale Vriend wat jou werklik waardeer, baie vir jou omgee en jou ten volle verstaan (Psalm 103:14; 1 Petrus 5:7). Jy vertrou hom met jou diepste gevoelens, want jy weet dat hy lojaal is aan diegene wat aan hom lojaal is (Psalm 18:25). Maar ons kan hierdie voorreg van intimiteit met God slegs geniet omdat hy dit moontlik gemaak het.

Jehovah het die weg berei

5. Wat het Jehovah gedoen om dit vir ons moontlik te maak om na aan hom te wees?

5 Sonder hulp sou ons as sondaars nooit na aan God kon wees nie (Psalm 5:4). “Maar hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was”, het die apostel Paulus geskryf (Romeine 5:8). Ja, Jehovah het gereël dat Jesus “sy siel . . . gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Ons geloof in daardie losprysoffer stel ons in staat om na aan God te wees. Aangesien God “ons eerste liefgehad het”, het hy die grondslag gelê sodat ons ’n vriendskap met hom kan aanknoop.—1 Johannes 4:19.

6, 7. (a) Hoe weet ons dat Jehovah nie ’n verborge, onkenbare God is nie? (b) Op watter maniere het Jehovah hom geopenbaar?

6 Jehovah het nog iets gedoen: Hy het hom aan ons geopenbaar. In enige vriendskap berus intimiteit op ’n deeglike kennis van die persoon en waardering vir sy eienskappe en handelswyse. As Jehovah dan ’n verborge, onkenbare God was, sou ons nooit na aan hom kon wees nie. Maar hy verberg hom nie; inteendeel, hy wil hê dat ons hom moet ken (Jesaja 45:19). Boonop is die dinge wat hy omtrent homself openbaar, aan almal beskikbaar, selfs aan dié van ons wat volgens die wêreld se standaarde gering geag word.—Matteus 11:25.

Jehovah het hom deur sy skeppingswerke en sy geskrewe Woord geopenbaar

7 Hoe het Jehovah hom aan ons geopenbaar? Sy skeppingswerke maak sekere aspekte van sy persoonlikheid bekend—sy ontsaglike krag, sy omvattende wysheid, sy oorvloedige liefde (Romeine 1:20). Maar Jehovah openbaar hom nie net deur sy skeppingswerke nie. Omdat hy nog altyd die Groot Kommunikeerder was, het hy ’n geskrewe openbaring van homself in sy Woord, die Bybel, voorsien.

Aanskou “die lieflikheid van Jehovah”

8. Waarom kan daar gesê word dat die Bybel op sigself ’n bewys van Jehovah se liefde vir ons is?

8 Die Bybel is op sigself ’n bewys van Jehovah se liefde vir ons. In sy Woord openbaar hy hom op maniere wat ons kan verstaan—’n bewys dat hy ons nie net liefhet nie, maar ook wil hê dat ons hom moet ken en liefhê. Wat ons in hierdie kosbare boek lees, stel ons in staat om “die lieflikheid van Jehovah” te aanskou en wek by ons die begeerte om na aan hom te wees (Psalm 90:17). Kom ons bespreek ’n paar van die treffende maniere waarop Jehovah hom in sy Woord openbaar.

9. Wat is ’n paar direkte verklarings in die Bybel wat God se eienskappe identifiseer?

9 Die Skrif bevat talle direkte verklarings wat God se eienskappe identifiseer. Let op ’n paar voorbeelde. “Jehovah het geregtigheid lief” (Psalm 37:28). God is “verhewe in krag” (Job 37:23). “‘Ek is lojaal’, is die woord van Jehovah” (Jeremia 3:12). “Hy is wys van hart” (Job 9:4). Hy is “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid” (Eksodus 34:6). “U, o Jehovah, is goed en vergewensgesind” (Psalm 86:5). En soos in die vorige hoofstuk gemeld is, is een eienskap oorheersend: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Voel jy nie aangetrokke tot hierdie weergalose God as jy oor hierdie lieflike eienskappe nadink nie?

Die Bybel help ons om nader aan Jehovah te kom

10, 11. (a) Wat het Jehovah in sy Woord ingesluit sodat ons sy persoonlikheid beter kan verstaan? (b) Watter Bybelse voorbeeld help ons om ons die uitwerking van God se krag voor te stel?

10 Jehovah het nie net vir ons vertel wat sy eienskappe is nie, maar hy het ook liefdevol in sy Woord spesifieke voorbeelde ingesluit van hoe hierdie eienskappe geopenbaar is. Hierdie verslae skep duidelike beelde wat ons help om die verskillende fasette van sy persoonlikheid beter te verstaan. En dit help ons om nader aan hom te kom. Beskou ’n voorbeeld.

11 Dit is een ding om te lees dat God “sterk in krag” is (Jesaja 40:26). Dit is iets heeltemal anders om te lees hoe hy Israel bevry en deur die Rooi See gelei het en die nasie toe 40 jaar in die wildernis onderhou het. Jy kan jou voorstel hoe die bruisende waters verdeel. Jy kan sien hoe die nasie—moontlik altesaam 3 000 000—oor die droë seebodem loop terwyl die gestolde waters soos hoë mure weerskante van hulle staan (Eksodus 14:21; 15:8). Jy kan die bewys van God se beskermende sorg in die wildernis sien. Water het uit ’n rots gevloei. Kos, wat soos wit saad lyk, het op die grond verskyn (Eksodus 16:31; Numeri 20:11). Jehovah openbaar hier dat hy nie net krag het nie, maar dat hy dit ten behoewe van sy volk aanwend. Hoe gerusstellend is dit tog om te weet dat ons gebede opgaan na ’n magtige God wat “vir ons ’n toevlug en sterkte [is], ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word”!—Psalm 46:1.

12. Hoe help Jehovah ons om hom te “sien” in terme wat ons kan verstaan?

12 Jehovah, wat ’n gees is, het nog meer gedoen om ons te help om hom te leer ken. As mense is ons beperk tot wat ons met die oog kan sien, en ons kan dus nie tot in die geesteryk sien nie. As God hom in geestelike terme aan ons sou verduidelik, sou dit wees soos om besonderhede omtrent jou voorkoms, byvoorbeeld die kleur van jou oë of jou sproete, te probeer verduidelik aan iemand wat blind gebore is. Jehovah help ons eerder goedgunstig om hom te “sien” in terme wat ons kan verstaan. Soms gebruik hy beeldspraak en illustrasies en vergelyk hy hom met dinge wat ons ken. Hy beskryf hom selfs asof hy menslike gelaatstrekke en liggaamsdele het. *

13. Watter beeld skep Jesaja 40:11, en hoe raak dit jou?

13 Let op die beskrywing van Jehovah in Jesaja 40:11: “Soos ’n herder sal hy sy kudde laat wei. Met sy arm sal hy die lammers bymekaarbring; en in sy boesem sal hy hulle dra.” Jehovah word hier vergelyk met ’n herder wat lammers met “sy arm” optel. Dit dui op God se vermoë om sy volk te beskerm en te ondersteun, selfs die swakkeres. Ons kan veilig voel in sy sterk arms, want as ons aan hom lojaal is, sal hy ons nooit verlaat nie (Romeine 8:38, 39). Die Groot Herder dra die lammers “in sy boesem”—’n uitdrukking wat verwys na die los voue van die bokleed, waarin ’n herder soms ’n pasgebore lammetjie gedra het. Ons word sodoende verseker dat Jehovah ons liefhet en met teerheid vir ons sorg. Dit is doodnatuurlik om na aan hom te wil wees.

‘Die Seun is bereid om hom te openbaar’

14. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah die intiemste openbaring van homself deur middel van Jesus verskaf?

14 In sy Woord verskaf Jehovah die intiemste openbaring van homself deur middel van sy geliefde Seun, Jesus. Niemand kon God se denke en gevoelens beter weerspieël het of ’n duideliker beskrywing van Hom gegee het as Jesus nie. Hierdie eersgebore Seun was immers aan sy Vader se sy lank voor ander geesskepsele en die fisiese heelal geskep is (Kolossense 1:15). Jesus het Jehovah intiem geken. Daarom kon hy sê: “Niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader; en niemand weet wie die Vader is nie, behalwe die Seun, en hy aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar” (Lukas 10:22). Toe Jesus ’n mens op aarde was, het hy sy Vader op twee belangrike maniere geopenbaar.

15, 16. Op watter twee maniere het Jesus sy Vader geopenbaar?

15 Eerstens, Jesus se leringe help ons om sy Vader te leer ken. Jesus het Jehovah beskryf in terme wat ons hart raak. Byvoorbeeld, om die barmhartige God te beskryf wat berouvolle sondaars terugverwelkom, het Jesus Jehovah vergelyk met ’n vergewensgesinde vader wat so ontroer word wanneer hy sy verlore seun sien terugkeer, dat hy hardloop en sy seun om die hals val en hom teer soen (Lukas 15:11-24). Jesus het Jehovah ook uitgebeeld as ’n God wat regskapenes “trek” omdat hy hulle as individue liefhet (Johannes 6:44). Hy weet selfs wanneer ’n klein mossie op die grond val. “Moet dus nie vrees nie”, het Jesus verduidelik, “julle is meer werd as baie mossies” (Matteus 10:29, 31). Ons kan nie anders as om aangetrokke te voel tot so ’n liefdevolle God nie.

16 Tweedens, Jesus se voorbeeld toon vir ons watter soort persoon Jehovah is. Jesus het sy Vader so volmaak weerspieël dat hy kon sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Johannes 14:9). Wanneer ons dan in die Evangelies van Jesus lees—die gevoelens wat hy geopenbaar het en die manier waarop hy ander behandel het—sien ons as ’t ware ’n lewende beeld van sy Vader. Jehovah kon ons nouliks ’n duideliker openbaring van sy eienskappe gegee het. Hoe so?

17. Lig toe wat Jehovah gedoen het om ons te help verstaan watter soort persoon hy is.

17 Ter toeligting: Stel jou voor jy moet verduidelik wat goedhartigheid is. Jy sal dit dalk met woorde omskryf. Maar as jy na iemand kon wys wat ’n goedhartige daad verrig en sê: “Dít is ’n voorbeeld van goedhartigheid”, sou die woord “goedhartigheid” groter betekenis aanneem en makliker wees om te verstaan. Jehovah het iets soortgelyks gedoen om ons te help verstaan watter soort persoon hy is. Hy het homself nie net in woorde beskryf nie, maar ook vir ons die lewende voorbeeld van sy Seun gegee. In Jesus sien ons hoe God se eienskappe toegepas word. Deur middel van die Evangelieverslae wat Jesus beskryf, sê Jehovah as ’t ware: “Dit is die soort persoon wat ek is.” Hoe beskryf die geïnspireerde verslag Jesus toe hy op die aarde was?

18. Hoe het Jesus die eienskappe krag, geregtigheid en wysheid geopenbaar?

18 Die vier vernaamste eienskappe van God het pragtig tot uiting gekom in Jesus. Sy krag kon gesien word aan die mag wat hy oor siekte, honger en selfs die dood gehad het. Maar in teenstelling met selfsugtige mense wat hulle krag of mag misbruik, het hy nooit wonderdadige krag gebruik om sy eie belange te bevorder of om ander leed aan te doen nie (Matteus 4:2-4). Hy het geregtigheid liefgehad. Sy hart was gevul met regverdige verontwaardiging toe hy gesien het hoe oneerlike handelaars die volk uitbuit (Matteus 21:12, 13). Hy het die armes en verdruktes onpartydig behandel en sulke persone gehelp om “verkwikking” vir hulle siel te vind (Matteus 11:4, 5, 28-30). Daar was weergalose wysheid in die leringe van Jesus, wat “meer as Salomo” was (Matteus 12:42). Maar Jesus het nooit mense met sy wysheid probeer beïndruk nie. Sy woorde het die harte van gewone mense geraak, want sy leringe was duidelik, eenvoudig en prakties.

19, 20. (a) Hoe was Jesus ’n uitsonderlike voorbeeld van liefde? (b) Wat moet ons in gedagte hou terwyl ons van Jesus se voorbeeld lees en daaroor nadink?

19 Jesus was ’n uitsonderlike voorbeeld van liefde. Hy het dwarsdeur sy bediening al die fasette van liefde aan die dag gelê, met inbegrip van empatie en medelye. Hy kon nie die lyding van ander aanskou sonder om vir hulle innig jammer te voel nie. Hierdie simpatie het hom keer op keer beweeg om daadwerklik op te tree (Matteus 14:14). Hoewel Jesus die siekes genees het en dié wat honger was, gevoed het, het hy medelye op ’n baie belangriker manier betoon. Hy het ander gehelp om die waarheid omtrent God se Koninkryk, wat blywende seëninge vir die mensdom gaan bring, te leer ken, te aanvaar en lief te hê (Markus 6:34; Lukas 4:43). Jesus het bowenal selfopofferende liefde getoon deur gewillig van sy siel afstand te doen ten behoewe van ander.—Johannes 15:13.

20 Dit is derhalwe geen wonder nie dat mense van alle ouderdomme en agtergronde aangetrokke gevoel het tot hierdie man met tere geneentheid en diep gevoelens (Markus 10:13-16). Maar terwyl ons van Jesus se lewende voorbeeld lees en daaroor nadink, moet ons altyd in gedagte hou dat ons in hierdie Seun ’n duidelike weerspieëling van sy Vader sien.—Hebreërs 1:3.

’n Studiehulp om ons te help

21, 22. Wat behels dit om Jehovah te soek, en wat bevat hierdie studiehulp om ons hiermee te help?

21 Deur hom so duidelik in sy Woord te openbaar, toon Jehovah baie beslis dat hy wil hê dat ons na aan hom moet wees. Terselfdertyd dwing hy ons nie om ’n goedgekeurde verhouding met hom na te streef nie. Dit is ons verantwoordelikheid om Jehovah te soek “terwyl hy gevind kan word” (Jesaja 55:6). Ons soek Jehovah deur sy eienskappe en weë te leer ken soos dit in die Bybel geopenbaar word. Die studiehulp wat jy nou lees, is bedoel om jou hiermee te help.

22 Jy sal sien dat hierdie boek ingedeel is volgens Jehovah se vier hoofeienskappe: krag, geregtigheid, wysheid en liefde. Elke deel begin met ’n oorsig van die betrokke eienskap. Die volgende paar hoofstukke bespreek dan hoe Jehovah die verskillende fasette van daardie eienskap openbaar. Elke deel bevat ook ’n hoofstuk wat toon hoe Jesus ’n voorbeeld in die toepassing van die eienskap gestel het, asook ’n hoofstuk wat bespreek hoe ons dit in ons lewe kan weerspieël.

23, 24. (a) Verduidelik die spesiale kenmerk “Vrae om oor te peins”. (b) Hoe help bepeinsing ons om steeds nader aan God te kom?

23 Van hierdie hoofstuk af is daar ’n spesiale kenmerk, naamlik “Vrae om oor te peins”. Kyk byvoorbeeld na die venster op bladsy 24. Die tekste en vrae is nie bedoel as ’n hersiening van die hoofstuk nie. Die doel daarvan is eerder om jou te help om oor ander belangrike aspekte van die onderwerp na te dink. Hoe kan jy hierdie venster doeltreffend gebruik? Slaan elkeen van die teksverwysings na en lees die verse aandagtig. Kyk dan na die vraag wat met elke teksverwysing gepaardgaan. Peins oor die antwoorde. Jy kan selfs navorsing doen. Vra jou ’n paar bykomende vrae af: ‘Wat leer hierdie inligting my van Jehovah? Hoe raak dit my lewe? Hoe kan ek dit gebruik om ander te help?’

24 Sulke bepeinsing kan ons help om steeds nader aan Jehovah te kom. Waarom sê ons so? Die Bybel verbind bepeinsing met die hart (Psalm 19:14). As ons met waardering nadink oor wat ons van God geleer het, sypel die inligting in ons figuurlike hart in, waar dit ons denke raak, ons gevoelens opwek en ons uiteindelik aanspoor om op te tree. Ons liefde vir God word inniger, en daardie liefde wek dan ’n begeerte by ons om hom as ons dierbaarste Vriend te behaag (1 Johannes 5:3). Om so ’n verhouding op te bou, moet ons Jehovah se eienskappe en weë leer ken. Maar laat ons eers ’n faset van God se persoonlikheid bespreek wat ’n dwingende rede verskaf om nader aan hom te kom—sy heiligheid.

^ par. 3 Interessant genoeg, die Hebreeuse woord wat met “intimiteit” weergegee word, word in Amos 3:7 gebruik, waar dit sê dat die Soewereine Heer Jehovah sy “vertroulike saak” aan sy knegte openbaar deurdat hy vooraf aan hulle bekend maak wat hy van voorneme is om te doen.

^ par. 12 Die Bybel praat byvoorbeeld van God se aangesig, oë, ore, neusgate, mond, arms en voete (Psalm 18:15; 27:8; 44:3; Jesaja 60:13; Matteus 4:4; 1 Petrus 3:12). Sulke figuurlike uitdrukkings moet net so min letterlik opgeneem word as verwysings na Jehovah as “die Rots” of “’n skild”.—Deuteronomium 32:4; Psalm 84:11.