Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die lewe met ’n gemoedsversteuring

Die lewe met ’n gemoedsversteuring

Die lewe met ’n gemoedsversteuring

GEMOEDSVERSTEURINGS is so algemeen dat dit kommerwekkend is. Daar word byvoorbeeld geskat dat meer as 330 miljoen mense oor die hele wêreld aan ernstige depressie ly, ’n toestand wat gekenmerk word deur oorweldigende terneergedruktheid en die onvermoë om genot te put uit daaglikse bedrywighede. Oor 20 jaar sal depressie na raming die tweede algemeenste siekte na hartvatsiekte wees. Dit is geen wonder dat dit al “die verkoue van geestesiektes” genoem is nie.

In onlangse jare het bipolêre versteuring groter openbare aandag gekry. Die simptome van hierdie siekte sluit hewige gemoedswisselinge in wat slinger tussen depressie en manie. “Gedurende die depressiewe fase”, sê ’n boek wat onlangs deur die Amerikaanse Mediese Vereniging uitgegee is, “kan selfmoordgedagtes by jou spook. Gedurende die maniese fase van die siekte kan jou goeie oordeel verdwyn en sien jy moontlik nie die skadelike gevolge van jou dade nie.”

Twee persent van die bevolking van die Verenigde State het moontlik bipolêre versteuring, wat beteken dat daar miljoene lyers in daardie land alleen is. Maar syfers op sigself kan nie die foltering beskryf wat iemand ervaar wat met ’n gemoedsversteuring saamleef nie.

Depressie—oorweldigende terneergedruktheid

Die meeste van ons weet hoe dit voel om ’n vlaag van terneergedruktheid te ondervind. Ná ’n ruk—miskien binne net ’n paar uur of dae—verdwyn die gevoel. Maar kliniese depressie is baie ernstiger. In watter opsig? “Dié van ons wat nie aan depressie ly nie, weet dat die skommelinge van ons emosies uiteindelik tot bedaring sal kom”, verduidelik dr. Mitch Golant, “maar die depressielyer ondervind die hoogtepunte en laagtepunte, die kinkels en draaie van sy gevoelens asof hy op ’n wegholtrein is sonder dat hy werklik weet hoe of wanneer—en selfs of—hy ooit daarvan kan afklim.”

Kliniese depressie kan baie vorme aanneem. Party mense het byvoorbeeld sogenoemde seisoenale gemoedsteuring (SAD), wat gedurende ’n spesifieke tyd van die jaar voorkom—gewoonlik in die winter. “Mense met SAD sê dat hulle depressie vererger hoe verder noord hulle woon en hoe meer bewolk die weer is”, sê ’n boek wat deur die People’s Medical Society uitgegee is. “Hoewel SAD hoofsaaklik met donker winterdae verbind is, is dit in party gevalle geassosieer met donker binnenshuise werksplekke, ontydige bewolkte weer en swak sig.”

Wat is die oorsake van kliniese depressie? Die antwoord is nie duidelik nie. Hoewel daar in party gevalle blykbaar ’n genetiese oorsaak is, lyk dit in die meeste gevalle of lewensondervindinge ’n belangrike rol speel. Daar is ook opgelet dat twee keer soveel vroue as mans daarmee gediagnoseer word. a Maar dit beteken nie dat mans dit nie kry nie. Inteendeel, daar word geskat dat tussen 5 en 12 persent van mans op een of ander tydstip in hulle lewe kliniese depressie sal kry.

Wanneer ’n mens hierdie soort depressie kry, is dit allesoorheersend en raak dit feitlik elke aspek van jou lewe. Dit “ruk jou tot in jou diepste wese”, sê Sheila, wat aan depressie ly, “en ondermyn jou selfvertroue, eiewaarde, jou vermoë om logies te dink en besluite te neem, en dan wanneer dit op sy ergste is, gee dit jou nog ’n paar knoue net om te sien of jy kan uithou”.

Daar is tye wanneer ’n lyer groot vertroosting daaruit kan put om met ’n simpatieke luisteraar oor sy of haar gevoelens te praat (Job 10:1). Maar wanneer biochemiese faktore betrokke is, moet daar toegegee word dat depressie nie bloot met ’n positiewe uitkyk weggedink kan word nie. In so ’n geval is die swaarmoedigheid wat deur hierdie siekte veroorsaak word, buite die lyer se beheer. Boonop kan die lyer net so verward oor die toestand wees as gesinslede en vriende.

Neem die voorbeeld van Paula, b ’n Christen wat aftakelende episodes van geweldige terneergedruktheid ervaar het voor haar depressie gediagnoseer is. Sy vertel: “Soms het ek ná Christelike vergaderinge reguit na my motor gegaan en sonder enige rede daar gesit en huil. Ek het net hierdie oorweldigende gevoel van eensaamheid en pyn gehad. Hoewel alles daarop gedui het dat ek baie vriende het wat vir my omgee, kon ek dit nie raaksien nie.”

Iets soortgelyks het met Ellen gebeur, wat as gevolg van haar depressie in ’n hospitaal opgeneem moes word. “Ek het twee seuns, twee lieflike skoondogters en ’n man—en ek weet hulle is almal baie lief vir my”, sê sy. ’n Mens sou verwag dat logika vir Ellen sou sê dat die lewe goed vir haar is en dat sy dierbaar vir haar gesin is. Maar op die slagveld van depressie kan somber gedagtes—ongeag hoe irrasioneel dit is—die lyer oorweldig.

Wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die geweldige impak wat een persoon se depressie op die res van die gesin kan hê. “Wanneer ’n geliefde aan depressie ly”, skryf dr. Golant, “lewe jy moontlik met ’n knaende gevoel van onsekerheid, aangesien jy nooit werklik weet wanneer jou geliefde van ’n depressiewe episode sal herstel of in ’n nuwe een sal verval nie. Jy kan ’n intense gevoel van verlies ervaar—selfs droefheid en woede—omdat jou lewe nie meer normaal is nie, en dalk nooit weer sal wees nie.”

Kinders kan dikwels aanvoel dat ’n ouer depressief is. “’n Kind wie se ma depressief is, ontwikkel ’n fyn aanvoeling vir sy ma se emosionele toestande en neem elke nuanse en verandering noukeurig waar”, skryf dr. Golant. Dr. Carol Watkins sê dat die kinders van ’n depressiewe ouer “meer waarskynlik probleme met hulle gedrag, leervermoë en portuurs sal hê. Hulle is meer geneig om self depressief te raak.”

Bipolêre versteuring—altyd inkonsekwent

Kliniese depressie is inderdaad ’n uitdaging. Maar wanneer dit met manie gepaardgaan, word die resultaat bipolêre versteuring genoem. c “Die enigste konsekwente eienskap van bipolêre versteuring is dat dit inkonsekwent is”, sê ’n lyer met die naam Lucia. Gedurende die maniese fase, sê The Harvard Mental Health Letter, kan bipolêre pasiënte “ondraaglik bemoeisiek en baasspelerig wees, en hulle roekelose en rustelose euforie kan skielik in prikkelbaarheid of woede oorgaan”.

Lenore vertel van haar ondervinding terwyl sy die lewenslus van die maniese fase ervaar het. “Ek het absoluut oorgeloop van energie”, sê sy. “Baie het my ’n supervrou genoem. Mense het gesê: ‘Ek wens ek kan meer soos jy wees.’ Ek het dikwels gevoel asof ek al die krag in die wêreld het, asof ek enigiets kon regkry. Ek het straf geoefen. Ek het met baie min slaap klaargekom—twee of drie uur per nag. En tog was ek net so vol energie wanneer ek wakker geword het.”

Maar mettertyd het ’n donker wolk oor Lenore begin hang. “Op die toppunt van my euforie”, sê sy, “het ek iewers diep binne-in my rusteloos gevoel, soos ’n motor wat loop maar nie afgeskakel kon word nie. Eensklaps sou my aangename gemoedstemming aggressief en vernietigend word. Ek sou skynbaar sonder rede teen ’n gesinslid uitvaar. Ek was woedend, vol haat en heeltemal buite beheer. Ná so ’n skrikwekkende uitbarsting het ek skielik uitgeput, huilerig en geweldig depressief geword. Ek het waardeloos en goddeloos gevoel. Of ek sou dalk weer soos vroeër ongelooflik opgewek raak, asof niks gebeur het nie.”

Die wisselvallige gedrag van bipolêre versteuring is ’n bron van verwarring vir gesinslede. Mary, wie se man aan bipolêre versteuring ly, sê: “Dit kan verwarrend wees om my man die een oomblik gelukkig en spraaksaam te sien en die volgende oomblik neerslagtig en teruggetrokke. Dit is werklik moeilik vir ons om te aanvaar dat hy min beheer hieroor het.”

Dit is ironies dat bipolêre versteuring dikwels net so angswekkend is vir die lyers—indien dit nie selfs angswekkender is nie. “Ek beny mense wat balans en stabiliteit in hulle lewe het”, sê Gloria, ’n bipolêre pasiënt. “Stabiliteit is vir bipolêre mense soos ’n plek wat hulle net besoek. Nie een van ons woon as ’t ware werklik daar nie.”

Wat is die oorsake van bipolêre versteuring? Daar is ’n genetiese komponent—een wat sterker is as by depressie. “Volgens sommige wetenskaplike studies”, sê die Amerikaanse Mediese Vereniging, “is die moontlikheid 8 tot 18 keer groter dat die naaste familielede—ouers, broers, susters en kinders—van mense met bipolêre depressie die siekte sal kry as dié van gesonde mense se naaste familie. Daarbenewens kan die feit dat jy ’n naaste familielid het wat aan bipolêre depressie ly, jou vatbaarder vir major depressie maak.”

In teenstelling met depressie lyk dit of daar net soveel mans as vroue met bipolêre versteuring is. Dit begin oor die algemeen wanneer mense jong volwassenes is, maar daar is gevalle waar tieners en selfs kinders met bipolêre versteuring gediagnoseer is. Nietemin kan dit selfs vir ’n mediese deskundige baie moeilik wees om die simptome te ontleed en die regte diagnose te maak. “Bipolêre versteuring is die verkleurmannetjie van psigiatriese versteurings, wat sy simptome van een pasiënt tot die volgende verander en van een episode tot die volgende, selfs by dieselfde pasiënt”, skryf dr. Francis Mark Mondimore van die Johns Hopkins-universiteit se Mediese Fakulteit. “Dit is ’n skim wat sy slagoffer in die donker kleed van swaarmoedigheid kan bekruip, maar wat dan weer jare lank kan verdwyn—om maar net weer in die skitterende maar brandende kleed van die maniese fase terug te keer.”

Dit is duidelik dat dit moeilik is om gemoedsversteurings te diagnoseer en dat dit selfs moeiliker kan wees om daarmee saam te leef. Maar daar is hoop vir lyers.

[Voetnote]

a Dit kan dalk deels toegeskryf word aan hulle vatbaarheid vir nageboortelike depressie sowel as hormoonveranderinge tydens die menopouse. Vroue is ook gewoonlik meer geneig om mediese hulp te kry en gevolglik om gediagnoseer te word.

b Van die name in hierdie reeks is verander.

c Volgens dokters kan elke gemoedstemming dikwels maande lank duur. Maar hulle sê dat party “wat vinnig deur die siklus gaan”, verskeie kere per jaar wipplank ry tussen depressie en manie. In seldsame gevalle gaan lyers binne 24 uur oor van die een uiterste na die ander.

[Lokteks op bladsy 6]

“Stabiliteit is vir bipolêre mense soos ’n plek wat hulle net besoek. Nie een van ons woon as ’t ware werklik daar nie.”—GLORIA

[Venster/Prent op bladsy 5]

Simptome van major depressie d

● ’n Depressiewe gemoedstemming, die grootste deel van die dag, amper elke dag, ten minste twee weke lank

● Verlies aan belangstelling in bedrywighede wat voorheen genotvol was

● Aansienlike gewigsverlies of -toename

● Oormatige slaap of die teenoorgestelde, slaaploosheid

● ’n Abnormale versnelling of vertraging van motoriese vaardighede

● Uitermatige moegheid, sonder enige duidelike oorsaak

● Gevoelens van waardeloosheid en/of ongepaste skuldgevoelens

● Afname in konsentrasievermoë

● Herhaalde selfmoordgedagtes

Sommige van hierdie simptome kan ook tekens van distemie wees—’n matige maar chroniese vorm van depressie

[Voetnoot]

d Hierdie lys word gegee as ’n oorsig en nie as ’n basis vir ’n selfdiagnose nie. Van die simptome kan op hulle eie ook simptome van ander probleme buiten depressie wees.