Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe ander kan help

Hoe ander kan help

Hoe ander kan help

MISKIEN ken jy iemand wat aan depressie of bipolêre versteuring ly. Indien wel, hoe kan jy hulle ondersteun? D. J. Jaffe van die Nasionale Vereniging vir Sielsiekes gee hierdie goeie raad: “Moenie die siekte met die individu verwar nie; haat die siekte maar wees lief vir die persoon.”

Susanna het die geduld en liefde gehad om presies dit te doen. Sy het ’n vriendin gehad wat aan bipolêre versteuring gely het. “Daar was tye wanneer sy dit net nie kon verdra om by my te wees nie”, sê Susanna. Susanna het nie moed opgegee met haar vriendin nie, maar het eerder navorsing gedoen om meer omtrent bipolêre versteuring te leer. “Nou”, sê sy, “besef ek watter uitwerking my vriendin se siekte op haar gedrag gehad het.” Susanna voel dat ’n mens op ’n wonderlike manier beloon kan word as jy die moeite doen om ’n lyer te probeer verstaan. “Dit kan jou help om die pragtige persoon agter die siekte lief te kry en te waardeer”, sê sy.

Wanneer die siek persoon ’n gesinslid is, is heelhartige ondersteuning noodsaaklik. Mario—wat vroeër in hierdie reeks genoem is—het hierdie les vroeg geleer. Sy vrou, Lucia, wat ook vroeër genoem is, is ’n bipolêre pasiënt. “Wat my aan die begin gehelp het,” sê Mario, “was om saam met my vrou na haar dokter te gaan en om navorsing te doen oor hierdie vreemde siekte sodat ek deeglik vertroud kon wees met die siekte waarmee ons te kampe gehad het. Ek en Lucia het ook baie met mekaar gesels en werk probeer maak van enige situasie wat opgeduik het.”

Ondersteuning van die Christengemeente

Die Bybel moedig alle Christene aan om ‘vertroostend met die terneergedrukte siele te praat’ en om ‘lankmoedig teenoor almal te wees’ (1 Tessalonisense 5:14). Hoe kan jy dit doen? Eerstens is dit belangrik om die verskil tussen ’n geestesiekte en geestelike siekte te verstaan. Die Bybelskrywer Jakobus het byvoorbeeld gesê dat gebed die een wat geestelik ongesteld is, gesond kan maak (Jakobus 5:14, 15). Maar Jesus het erken dat diegene wat fisies siek is, ’n geneesheer nodig het (Matteus 9:12). Dit is natuurlik altyd gepas en nuttig om tot Jehovah te bid oor enige bekommernis, insluitende ons gesondheid (Psalm 55:22; Filippense 4:6, 7). Maar die Bybel sê nie dat ’n groter deelname aan geestelike bedrywighede op sigself ons huidige mediese probleme sal oplos nie.

Verstandige Christene impliseer dus nie dat mense wat aan depressie ly, vir hulle eie lyding verantwoordelik is nie. Sulke kommentare sal net so min waarde hê as dié van Job se valse vertroosters (Job 8:1-6). In baie gevalle sal depressie eenvoudig nie beter word nie tensy dit medies behandel word. Dit is veral so wanneer iemand aan ernstige depressie ly en miskien selfs selfmoordneigings het. In sulke gevalle is professionele hulp noodsaaklik.

Mede-Christene kan nietemin baie doen om ondersteuning te gee. Geduld is natuurlik nodig. Sekere aspekte van die Christelike lewenswyse kan byvoorbeeld ’n baie groot uitdaging vir diegene met ’n gemoedsversteuring wees. Diane, wat aan bipolêre versteuring ly, sê: “Vir my is dit ’n stryd om aan die bediening deel te neem. Dit is ’n uitdaging om die goeie en gelukkige nuus van die Bybel na ander te neem wanneer ek nie goed en gelukkig voel nie.”

As jy lyers wil help, moet jy probeer om empatie te betoon (1 Korintiërs 10:24; Filippense 2:4). Probeer om sake eerder deur die oë van die lyer te sien as deur jou eie oë. Moenie die persoon met onredelike verwagtinge belas nie. “Wanneer ek aanvaar word vir die persoon wat ek nou is”, sê Carl, wat ’n stryd teen depressie voer, “word die gevoel dat ek iewers behoort, geleidelik herstel. Danksy die geduld en hulp van ’n paar ouer vriende kon ek ’n hegter verhouding met God opbou en groot vreugde daarin vind om ander te help om dieselfde te doen.”

Met ondersteuning kan diegene wat siek is, groot verligting ontvang. Neem die geval van Brenda, ’n Christenvrou wat ’n bipolêre pasiënt is. “Wanneer ek neerslagtig was, het ek wonderlike ondersteuning en begrip van my vriende in die gemeente ontvang, en hulle het my nooit as geestelik swak veroordeel nie”, sê sy. “Daar was al tye wanneer hulle my saam met hulle in die bediening uitgeneem en my net laat luister het of wanneer hulle vir my ’n sitplek by die Koninkryksaal gehou het sodat ek kon inkom nadat almal reeds gaan sit het.”

Die bystand van liefdevolle en simpatieke gemeentelike ouer manne was ’n groot hulp vir Cherie, wat in die vorige artikel genoem is en ook aan depressie ly. Sy sê: “Wanneer die ouer manne my van Jehovah se liefde verseker, dele uit God se Woord, die Bybel, vir my lees, met my praat oor Jehovah se voorneme om ’n paradys van vrede en gesondheid te bring en wanneer hulle saam met my bid—selfs oor die telefoon—voel ek hoe die las ligter word. Ek weet dat Jehovah en my broers my nie verlaat het nie, en dit gee my krag.”

Gesinslede en vriende kan ongetwyfeld deur betekenisvolle ondersteuning ’n groot rol in ’n lyer se welsyn speel. “Ek dink dat ek op die oomblik redelik in beheer van my lewe is”, sê Lucia. “Ek en my man het hard gewerk om saam hierdeur te kom, en dinge is vir ons beter as ooit.”

Baie wat nou verskillende soorte geestesiektes het, besef dat hulle ’n langtermynstryd teen hierdie verskriklike siektes sal moet voer. Maar die Bybel belowe dat in God se nuwe wêreld “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). Dan sal daar geen spoor meer wees van die pynlike siektes en kwale wat soveel mense vandag teister nie. Dit is inderdaad hartverblydend om te dink aan God se belofte van ’n nuwe wêreld waarin alle siektes—insluitende gemoedsversteurings—vir ewig iets van die verlede sal wees. Dan, sê die Bybel, sal daar nie meer verdriet of angsgeroep of pyn wees nie.—Openbaring 21:4.

[Lokteks op bladsy 12]

Jesus het erken dat diegene wat fisies siek is, ’n geneesheer nodig het.—MATTEUS 9:12

[Lokteks op bladsy 13]

Die Bybel belowe dat in God se nuwe wêreld “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”.—JESAJA 33:24