Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’N Besoek aan Japan se warmbronne

’N Besoek aan Japan se warmbronne

’N Besoek aan Japan se warmbronne

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN

WAT kom in jou gedagtes op wanneer jy aan Japan dink? Die majestueuse berg Foedji? Die ultrasneltrein? Die reusestad Tokio? Die land van die opkomende son bied egter meer as net hierdie bekende toeriste-aantreklikhede. Of dit nou vir geneeskragtige doeleindes of vir ontspanning is, miljoene mense besoek die onsens—die warmbronne van Japan—elke jaar. Gedurende ’n onlangse jaar het ongeveer 140 miljoen mense in Japan by hotelle met warmbronne tuisgegaan. Maar wat maak hierdie spa’s so gewild?

Geskiedenis van die onsen

Die Japannese geniet dit al baie eeue lank om in geotermiese water te bad. Geskrifte wat uit die agtste eeu G.J. dateer, verwys na die gebruik van warmbronne. Klaarblyklik was die 16de-eeuse leenheer Takeda Sjingen ’n groot voorstander van die geneeskragtige waarde van mineraalbronne. Ná gevegte het hy en sy samoeraikrygers in warmbronne gebad om hulle swaardwonde, gebreekte bene, snye en kneusplekke te help genees. Die water het ook gehelp om spanning te verlig en die manne vir die volgende geveg voor te berei.

Die samoerai was natuurlik kwesbaar terwyl hulle gebad het—hulle sou ongewapen wees tydens ’n verrassingsaanval. Om hierdie probleem te bowe te kom, het Takeda Sjingen van ’n groep afgeleë en versteekte warmbronne gebruik gemaak, wat later bekend geword het as Sjingen se geheime baddens. Dit is interessant dat hierdie warmbronne nou gebruik word deur professionele sportmanne, insluitende soemo-stoeiers en bofbalspelers, omdat hulle glo dat die water hulle liggaam weer krag gee vir toekomstige sportbedrywighede.

Unieke geografiese kenmerke

Japan se geografiese kenmerke is veral geskik vir warmbronne. Daar is sowat 245 vulkane oor die eilandgroep versprei, waarvan 86 aktief is. Hierdie vulkane is ’n onheilspellende herinnering aan die aktiwiteite diep onder die aardoppervlak. Wat vind ons daar?

Die Japannese eilande lê op ineenlopende litosferiese plate, of plat segmente van die aardkors. Magma, gesmelte rots, vorm moontlik waar hierdie reuseplate ineenloop. Die vulkane lê reg bokant hierdie sone—en dien as sigbare uitlate. Hierdie geotermiese streek dien ook as die hittebron vir die ondergrondse warmbronne. Die grondwater wat met magma of warm rotse in aanraking kom, word verhit en absorbeer minerale, wat ideale toestande vir die ontstaan van onsens skep. Die boek The Hot Springs of Japan sê dus tereg: “Geen land in die wêreld is so geseën met natuurlike warmbronne soos Japan nie.” Trouens, volgens ’n studie in 1998 is daar 2 839 warmbronne in die land.

Daar is verskillende soorte warmbronne in Japan, wat verskil in grootte, vorm en kleur. In ’n poging om die terapeutiese waarde van die warmbronne te klassifiseer, het die Japannese Omgewingsagentskap dit in nege chemiese kategorieë ingedeel. Die name wat aan warmbronne gegee word, verwys dikwels na hulle kenmerke. Byvoorbeeld, ysterryke warmbronne kan jou handdoek ’n rooierige oranje laat word. Gevolglik word die woord “rooi” in hulle name gebruik. Warmbronne met ’n hoë soutinhoud word soutbaddens genoem. En hoe sal jy daarvan hou om in ’n palingbad te swem? Dit klink weliswaar nie baie aanloklik nie. Maar moenie bekommerd wees nie. Daar is nie regtig palings in hierdie warmbronne nie. Dit word so genoem omdat mense se vel so slymerig soos ’n paling s’n voel wanneer hulle uit hierdie warmbronne kom—weens die alkaligehalte van die water.

In ’n pragtige omgewing

Om in hierdie warm water te lê terwyl jy deur pragtige berge, valleie, riviere, strande of vlaktes omring word, is ’n unieke en aangename ondervinding wat nie maklik vergeet sal word nie. Omdat baie van Japan se warmbronne in die buitelug geleë is, het baaiers ’n mooi uitsig op die pragtige natuurskoon. Die plafon is die diepblou hemel terwyl die omliggende berge as mure dien. Die geluide wat in hierdie “vertrek” gehoor word, is moontlik die koorsang van voëltjies in die oggend of die melodieuse gekabbel van ’n spruit. Dit lyk werklik asof daar geen einde is aan al die dinge wat die warmbronne by mense laat byval vind nie.

Sal jy graag onder ’n waterval wil bad? Dit is ’n heerlike ervaring. Vallende water masseer jou en dit is nog ’n deel van die Japannese badondervinding. Jy kan ook in ’n grot bad, waar warm mineraalwater uit die diep holtes van die rotsformasies borrel. Party warmbronne is op die strand geleë, met ’n volmaakte uitsig op die sonsondergang, terwyl ander langs riviere gevind kan word.

Ongeag waar die warmbron is of watter soort dit is, een ding is seker: As jy in vulkanies verhitte warmbronne bad, sal dit die druk van die daaglikse lewe verlig, al is dit net vir ’n oomblik. Jy sal waarlik verkwik daar uitkom en miskien die Japannese lewenswyse ’n bietjie beter verstaan. As jy dus ’n geleentheid kry om na hierdie deel van die wêreld te gaan, besoek gerus die onsens—die warmbronne van Japan!

[Venster/Prent op bladsy 14]

WARMBRONNE EN SJOGOENS

Gedurende die Edo-tydperk (1603-1867) is daar groot waarde aan mineraalwater geheg. Militêre diktators, wat sjogoens genoem is, het menslike draers gebruik om die water van Atami na Edo (Tokio)—’n afstand van 110 kilometer—aan te dra in houtvate wat met pale gestut is. By verskeie plekke langs die roete is die gesogte water aan ’n ander span draers oorhandig, en hulle het dan die vrag oor hulle deel van die reis gedra. So is die mineraalwater vinnig vervoer. Die warm water wat by die bron verkry is, was byna kokend. Tydens hierdie veeleisende reis van sowat 15 uur het die water wat uit die warmbronne gekom het, tot net die regte temperatuur afgekoel sodat die sjogoen ’n verkwikkende bad in sy kasteel in Edo kon geniet!

[Erkenning]

A Chronological Table of the History of Atami

[Venster/Prent op bladsy 16]

Onsen-etiket

Dit is gebruiklik om jou buite die warmbron met seep te smeer en te was, waarna jy jou goed moet afspoel. Dan is dit tyd om onder die helder mineraalwater in te gaan. a Dit is beter as jy stadig ingaan, want die water van party warmbronne kan taamlik warm wees. Wanneer jy klaar is, moet jy nie die mineraalryke water afspoel nie. Droog jou net af met ’n handdoek. Minerale wat intrek, sal vermoedelik help om jou vel sag te maak.

[Voetnoot]

a Openbare baaiery in spa’s wat aparte baddens vir mans en vroue het, is nog ’n unieke kenmerk van die onsen.

[Prente op bladsy 17]

Warmbronne word gedurende al die seisoene besoek

[Erkennings]

Waterval: Yubara, Okayama Prefecture; winter: The Mainichi Newspapers

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Hakkoda Onsen Yusen