Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

FIGURE UIT DIE VERLEDE | DIE VEREISTE

’n Ultimatum in God se naam?

’n Ultimatum in God se naam?

“As julle dit nie doen nie, . . . sal ek, met God se hulp, met krag onder julle invaar en aan alle kante en op elke denkbare manier teen julle oorlog voer en julle aan die Kerk en Sy Majesteit onderwerp en gehoorsaam maak; en ek sal julle vrouens en kinders neem en hulle tot slawe maak, . . . en ek sal julle eiendom neem en julle soveel leed aandoen as wat ek kan. . . . Die sterftes en leed wat dit sal meebring, sal julle skuld wees, en nie Sy Majesteit s’n of ons s’n nie.”

WAT amptelike verklarings betref, is dít moontlik een van die eienaardigstes. Dit is deel van ’n verklaring wat bekend staan as die Vereiste, el Requerimiento in Spaans, wat Spaanse veroweraars gedurende ’n deel van die 16de eeu hardop moes lees wanneer hulle in die Amerikas aan land gegaan het om gebiede te verower.

Presies wat het die veroweraars aan die plaaslike mense voorgelees, en waarom?

Gedwonge bekering tot Katolisisme

Kort nadat Columbus in 1492 in die Amerikas aangekom het, het Spanje sowel as Portugal beweer dat hulle die reg het om oor die nuwe lande te heers. Aangesien al twee nasies die Pous as Christus se verteenwoordiger op die aarde beskou het, het hulle ’n beroep op hom gedoen om die geskil tussen hulle te besleg. Onder leiding van die Pous het die kerk die pas ontdekte lande tussen Spanje en Portugal verdeel—op voorwaarde dat hierdie twee lande sendelinge stuur om die inboorlinge te bekeer.

Gedurende die verowering van hierdie gebiede het die Spaanse koningshuis die veldtogte van die veroweraars probeer regverdig. Die Spanjaarde het aangevoer dat die Pous namens God opgetree het toe hy die lande aan die veroweraars gegee het en dat hulle dus die reg het om van die inboorlinge en hulle besittings ontslae te raak en hulle hulle vryheid te ontneem.

Die Spanjaarde het ’n dokument opgestel om die plaaslike inwoners van die Pous se beslissing in kennis te stel. Daar is van die inboorlinge vereis om die Christelike godsdiens aan te neem en onderdane van die koning van Spanje te word. As die inboorlinge weerstand gebied het, het die Spanjaarde gemeen dat hulle die reg het om in God se naam ’n “regverdige” oorlog teen hulle te voer.

“Die redenasie was dat geweld verskoonbaar is as daar ’n regverdige rede daarvoor is. Spanje moes dus regverdige redes versin.”—Francis Sullivan, Jesuïeteprofessor van teologie.

“Onregverdig, goddeloos, skandelik”

Die Vereiste is gelees om die gewete van die Spaanse koningshuis te sus en die koloniale verowerings te regverdig. Die veroweraars het dikwels die verklaring voor ’n inval op hulle skip gelees of dit op land voorgelees aan die inwoners, wat nie Europese tale kon verstaan nie. Soms is die dokument gelees voor leë hutte waaruit die verskrikte inboorlinge reeds gevlug het.

Die poging om die inboorlinge te dwing om hulle te bekeer, het bloedbaddens tot gevolg gehad. Omtrent 2 000 Araukane is in 1550 in ’n geveg in Chili doodgemaak. Aangaande diegene wat dit oorleef het, het die veroweraar Pedro de Valdivia vir die koning gesê: “Tweehonderd se hande en neuse is afgesny weens hulle hardkoppigheid, aangesien ek dikwels boodskappers na hulle gestuur het en hulle bevele [die Vereiste] gegee het volgens U Majesteit se opdrag.” *

Die voorlesing van die Vereiste het moontlik die gewete van die invallers gesus. Maar dit het nie juis gehelp om die godsdiens van die Spanjaarde te bevorder nie. Die sestiende-eeuse sendeling en monnik Bartolomé de las Casas, wat die gevolge van die Vereiste gesien het, het geskryf: “Hoe onregverdig, goddeloos, skandelik, onredelik en onsinnig was hierdie vereiste tog! Om nie eers te praat van al die oneer wat dit die Christelike godsdiens aangedoen het nie.” Die kroniekskrywer Gonzalo Fernández de Oviedo het die feit betreur dat die gruweldade wat teen die inheemse volke van die Amerikas gepleeg is, hulle ’n baie slegte eerste indruk van die Christelike godsdiens gegee het.

Dra God die skuld vir die gruweldade wat politieke en kerklike owerhede na bewering in sy naam gepleeg het? Die Bybel sê: “Ver is dit van die ware God om goddeloos te handel, en van die Almagtige om onregverdig te handel!”—Job 34:10.

^ par. 12 Volgens party bronne is die Vereiste in 1573 afgeskaf.