Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Satan

Satan

Is Satan ’n werklike persoon?

“Die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, [mislei] die hele bewoonde aarde.”—Openbaring 12:9.

WAT MENSE SÊ

Party mense glo dat Satan die Duiwel nie ’n persoon is nie, maar eerder net die boosheid wat daar in elke persoon is.

WAT DIE BYBEL SÊ

Satan is ’n werklike persoon. Hy is ’n opstandige engel, ’n geesskepsel wat God teëstaan. Die Bybel noem Satan “die heerser van hierdie wêreld” (Johannes 12:31). Hy gebruik “leuenagtige tekens” en “bedrog” om sy oogmerke te bereik.—2 Tessalonisense 2:9, 10.

In die Bybel is ’n gesprek opgeteken wat tussen Satan en God in die hemel plaasgevind het. Satan kan dus nie bloot ’n simbool van die boosheid in elke persoon wees nie, want dan sou God, wat volmaak en sedelik onbesmet is, met ’n bose deel van homself gepraat het (Deuteronomium 32:4; Job 2:1-6). Dit is duidelik dat Satan ’n werklike persoon is en nie bloot ’n verpersoonliking van boosheid nie.

WAAROM MOET DIT VIR JOU SAAK MAAK?

Die redes waarom Satan jou wil laat glo dat hy nie werklik bestaan nie, is soortgelyk aan dié van ’n misdadiger wat sy identiteit verberg sodat hy kan voortgaan om die wet te oortree sonder om gevang te word. Om jou teen Satan te beskerm, moet jy eers erken dat hy bestaan.

Waar woon Satan?

“Wee die aarde . . . , want die Duiwel het na julle toe neergedaal.”—Openbaring 12:12.

WAT MENSE SÊ

Baie glo dat Satan in ’n brandende hel binne-in die aarde woon. Ander meen dat hy in slegte mense woon.

WAT DIE BYBEL SÊ

Satan is ’n geesskepsel, en daarom woon hy in ’n onsigbare ryk. Satan is ’n tyd lank toegelaat om na willekeur rond te beweeg waar God en die getroue engele woon (Job 1:6). Maar nou is hy uit God se teenwoordigheid verdryf en is hy, tesame met ander bose geesskepsele, tot die omgewing van die aarde beperk.—Openbaring 12:12.

Beteken dit dat Satan tot ’n spesifieke plek op die aarde beperk is? Jy het dalk al gelees dat die eertydse stad Pergamum beskryf is as die plek “waar Satan woon” (Openbaring 2:13). Hierdie uitdrukking beteken in werklikheid dat baie sataniese aanbidding daar beoefen is. Satan woon nie op ’n spesifieke plek op die aarde nie. Die Bybel sê eerder dat “al die koninkryke van die bewoonde aarde” aan hom behoort.—Lukas 4:5, 6.

Kan Satan mense leed aandoen of hulle beheer?

“Die hele wêreld lê in die mag van die bose.”—1 Johannes 5:19.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die meeste mense swig voor Satan se misleidende invloed en kom dus onder sy beheer (2 Korintiërs 11:14). Hierdie feit help verduidelik waarom mense nie daarin kan slaag om wêreldtoestande te verbeter nie.

Die Bybel meld ook ernstiger gevalle, waar Satan of ander opstandige engele beheer oor mense verkry het en hulle liggaamlike leed aangedoen het.—Matteus 12:22; 17:15-18; Markus 5:2-5.

WAT JY KAN DOEN

Jy hoef nie doodbang te wees vir Satan se mag nie. As jy nie onder Satan se invloed of beheer wil kom nie, moet jy leer hoe hy mense bedrieg, sodat jy “nie onkundig omtrent sy planne” is nie (2 Korintiërs 2:11). As jy die Bybel lees, kan jy lewensbelangrike kennis opdoen van Satan se taktiek en sodoende voorkom dat jy ’n slagoffer word.

Raak ontslae van enigiets wat met demoonbedrywigheid verband hou (Handelinge 19:19). Dit sluit gelukbringers, gedrukte materiaal, video’s, musiek en rekenaarprogramme in wat spiritisme of waarsêery bevorder.

“Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug”, sê die Bybel (Jakobus 4:7). As jy die Bybel se wyse raad gehoorsaam, kan dit jou teen Satan se bose sette beskerm.—Efesiërs 6:11-18.