Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Is daar ’n God? Maak dit ’n verskil?

Is daar ’n God? Maak dit ’n verskil?

Vir baie mense is die vraag: “Is daar ’n God?” blykbaar onbeantwoordbaar of van geen belang nie. Hervé, wat in Frankryk grootgeword het, sê: “Hoewel ek myself nie as ’n ateïs of ’n agnostikus beskou nie, is ek nie ’n gelowige nie. Ek dink die beste manier om te lewe, is om gesonde verstand te gebruik. Dit vereis nie dat ’n mens in ’n God glo nie.”

Ander voel dalk soos John, in die Verenigde State. Hy het gesê: “Ek is grootgemaak deur ouers wat nie in God geglo het nie. As ’n jong man het ek geen opinie gehad oor die bestaan van God nie. Maar soms het ek tog daaroor gewonder.”

Het jy al ooit gewonder of daar ’n God is en, as daar is, of die lewe ’n groter betekenis het? Dalk het jy feite teëgekom wat moeilik is om te verklaar as ’n mens nie in die bestaan van ’n Skepper glo nie, soos wetenskaplike inligting oor die fyn ingestelde balans in die natuur wat lewe op ons planeet moontlik maak en die bewyse dat lewe nie uit lewelose materie ontstaan het nie.—Sien die venster “ Ondersoek die bewyse.”

Waarom is die bogenoemde feite vir ons van belang? Dit is soos leidrade wat ons na ’n skat lei. As jy oortuigende bewyse vind dat God bestaan en betroubare inligting oor hom verkry, sal dit vir jou baie lonend wees. Kyk na vier voorbeelde.

1. DIE BETEKENIS VAN DIE LEWE

As die lewe ’n groter betekenis het, wil ons weet wat dit is en verstaan waar ons inpas. As God immers bestaan en ons nie daarvan weet nie, beteken dit dat ons onbewus is van die belangrikste grondwaarheid in die heelal.

Die Bybel sê dat God die Bron van alle lewe is (Openbaring 4:11). Hoe kan hierdie feit ons lewe sinvol maak? Kyk na wat die Bybel oor die saak sê.

Die mens is uniek onder al die skepsele op die aarde. Volgens die Bybel het God ons geskep om soos hy te wees, om sy persoonlikheid te weerspieël (Genesis 1:27). Wat meer is, die Bybel leer dat dit vir ’n mens moontlik is om God se vriend te wees (Jakobus 2:23). Niks kan ons lewe sinvoller maak as om so ’n verhouding met ons Skepper te hê nie.

Wat beteken dit om God se vriend te wees? Vriende van God kan direk met hom kommunikeer. En hy belowe dat hy na hulle sal luister en in hulle belang sal optree (Psalm 91:15). As vriende van God kan ons sy denke oor baie sake leer ken. Dit kan ons betroubare insig in die diepste vrae oor die lewe gee.

As God bestaan en ons nie daarvan weet nie, beteken dit dat ons onbewus is van die belangrikste grondwaarheid in die heelal

2. GEMOEDSRUS

Party vind dit byvoorbeeld moeilik om in God te glo weens die lyding wat hulle in die wêreld sien. Hulle vra: ‘Waarom laat ’n almagtige Skepper lyding en boosheid toe?’

Die Bybel se vertroostende antwoord is dat God nooit bedoel het dat mense moet ly nie. Toe die mens geskep is, was daar geen lyding nie. Selfs die dood was nie deel van God se oorspronklike voorneme met die mensdom nie (Genesis 2:7-9, 15-17). Is dit moeilik om te glo? ’n Droom? Nee. As daar ’n almagtige Skepper is en as liefde wel sy hoofeienskap is, sou ons tog verwag dat dít die lewe is wat hy vir die mensdom sou wou hê.

Hoe het die mens beland in die situasie waarin hy nou is? Die Bybel verduidelik dat God mense met wilsvryheid geskep het. Ons is nie robotte wat gedwing word om God te gehoorsaam nie. Die eerste mensepaar, van wie alle mense afgestam het, het besluit om God se leiding te verwerp. Hulle het selfsugtig opgetree en hulle eie wil nagestreef (Genesis 3:1-6, 22-24). Nou ondervind ons die pynlike gevolge.

Die wete dat menselyding nie deel van God se voorneme is nie, kan ons baie gemoedsrus gee. Maar ons wil natuurlik ook verligting hê. Ons het hoop vir die toekoms nodig.

3. HOOP

Nadat die mens in opstand gekom het, het God onmiddellik belowe dat hy sy oorspronklike voorneme met die aarde sal vervul. Omdat hy almagtig is, kan niks hom keer nie (Jesaja 55:11). God sal binnekort al die gevolge van daardie opstand ongedaan maak en sy oorspronklike voorneme met die aarde en die mensdom verwesenlik.

Wat kan dit vir jou beteken? God het baie beloftes aangaande die toekoms gemaak, wat in die Bybel gevind kan word. Kom ons kyk na net twee hiervan.

  • WÊRELDWYE VREDE EN DIE EINDE VAN GODDELOOSHEID. “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:10, 11.

  • SIEKTE EN DIE DOOD SAL UIT DIE WEG GERUIM WORD. “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). “Hy sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee.”—Jesaja 25:8.

Waarom kan ons die beloftes wat God in die Bybel gemaak het, vertrou? Omdat ons kan bevestig dat baie van die profesieë wat daarin opgeteken is, alreeds vervul is. Maar die hoop dat ons in die toekoms verligting van lyding sal kry, verwyder nie die probleme wat ons nou ondervind nie. Watter bykomende hulp voorsien God?

4. HULP MET PROBLEME EN BESLUITE

God voorsien leiding om ons te help om probleme die hoof te bied en goeie besluite te neem. Baie besluite is klein, terwyl ander lewenslange gevolge het. Geen mens kan ons wysheid bied wat so doeltreffend is soos die wysheid wat ons Skepper voorsien nie. Hy kan vir ewig in die toekoms en in die verlede sien, en hy is die Bron van menselewe. Hy weet dus wat vir ons die beste is.

Die Bybel bevat die gedagtes van Jehovah God, wat opgeteken is deur verskillende menseskrywers wat deur hom geïnspireer is. Ons vind die volgende verklaring in die Bybel: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel.”—Jesaja 48:17, 18.

God is almagtig, en hy is bereid om sy krag ten behoewe van ons te gebruik. Die Bybel beskryf God as ’n liefdevolle vader wat ons wil help. Dit sê: “Die Vader in die hemel [sal] heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:13) Hierdie krag wat van God kom, kan ons lei en versterk.

Hoe kan jy hierdie hulp van God verkry? Die Bybel antwoord: “Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). As jy daarvan oortuig wil wees dat God bestaan, moet jy self die bewyse ondersoek.

SAL JY ONDERSOEK INSTEL?

Hoewel dit tyd neem om die waarheid oor God te probeer vind, is dit duidelik dat jy daarby kan baat vind as jy dit doen. Neem byvoorbeeld die ondervinding van Xiujin Xiao, wat in China gebore is en nou in die Verenigde State woon. Hy sê: “Hoewel ek in evolusie geglo het, was ek nuuskierig oor die Bybel. Daarom het ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. In my laaste jaar op universiteit was ek so besig dat ek min tyd vir my Bybelstudie gehad het. Maar ek was nie gelukkig nie. Toe ek weer my Bybelstudie ’n prioriteit gemaak het, het ek innerlike vreugde gevind.”

Wil jy graag meer oor ons Skepper, Jehovah God, leer? Neem gerus tyd om self ondersoek in te stel.