Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vraag 3: Waarom laat God toe dat ek ly?

Vraag 3: Waarom laat God toe dat ek ly?

IAN se pa was ’n strawwe drinker. Hoewel Ian materieel niks kortgekom het terwyl hy grootgeword het nie, het hy nie die emosionele ondersteuning ontvang wat hy graag van sy pa wou hê nie. “Ek was nooit baie lief vir hom nie, hoofsaaklik weens sy drankprobleem en die manier waarop hy my ma behandel het”, sê Ian. Toe Ian ouer geword het, het hy die bestaan van God begin bevraagteken. “‘As God werklik bestaan’, het ek geredeneer, ‘waarom laat hy toe dat mense ly?’”

Waarom vra mense hierdie vraag?

Al het jy nie baie probleme in jou lewe nie, druis dit dalk baie sterk in teen jou sin vir geregtigheid wanneer jy onskuldige mense sien ly. Maar die vraag oor lyding is uiters relevant as jy, soos Ian, ontberinge verduur of as ’n geliefde siek word of sterf.

Wat sê party is die antwoord?

Party mense glo dat God lyding toelaat om ons nederigheid en medelye te leer. Ander meen dat mense in hierdie lewe ly as gevolg van sondes wat hulle in ’n vorige lewe gepleeg het.

Wat gee hierdie antwoorde te kenne?

God het geen simpatie met menselyding nie, wat dit moeilik maak om hom lief te hê. God is wreed.

Wat leer die Bybel?

Die Bybel sê uitdruklik dat God nie vir menselyding verantwoordelik is nie. “Laat niemand, wanneer hy beproef word, sê: ‘Ek word deur God beproef’ nie. Want met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). Trouens, die gedagte dat God verantwoordelik is vir lyding, is in stryd met die manier waarop die Bybel God se persoonlikheid beskryf. Hoe so?

Een van God se vernaamste eienskappe is liefde (1 Johannes 4:8). Om hierdie gedagte te beklemtoon, vergelyk die Bybel God se gevoelens met dié van ’n sogende moeder. “Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie?”, vra God. “Selfs hierdie vroue kan vergeet, maar ek sal jou nie vergeet nie” (Jesaja 49:15). Kan jy jou voorstel dat ’n liefdevolle moeder haar kind opsetlik seermaak? Nee, ’n liefdevolle ouer sal ’n kind se lyding eerder probeer verlig. So ook is God nie die oorsaak van onskuldige mense se lyding nie.—Genesis 18:25.

En tog ly onskuldig mense. Jy wonder dalk: ‘As God vir ons omgee en almagtig is, waarom verwyder hy nie die oorsake van lyding nie?’

God het goeie redes waarom hy lyding tans toelaat. Kyk na net een daarvan: Mense veroorsaak dikwels ander se lyding. Baie bullebakke en tiranne wat mense seermaak, is nie bereid om hulle weë te verander nie. God sal sulke mense dus moet vernietig om ’n vername oorsaak van lyding te verwyder.

Die apostel Petrus het verduidelik waarom God nog nie kwaaddoeners vernietig het nie en het geskryf: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Jehovah God se geduld is ’n blyk van sy liefdevolle en barmhartige persoonlikheid.

Maar Jehovah God sal binnekort optree. Hy sal ‘verdrukking vergeld aan dié wat verdrukking veroorsaak’ vir die onskuldiges. Diegene wat onregverdige lyding veroorsaak, sal “as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan”.—2 Tessalonisense 1:6-9.

Ian, wat vroeër aangehaal is, het bevredigende antwoorde op sy vrae oor lyding gevind. Wat hy geleer het, het sy beskouing van die lewe verander. Lees sy verhaal in die volgende artikel met die titel “Die Bybel verander lewens”.