Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sleutels tot gesinsgeluk

Advies vir diegene met skuld

Advies vir diegene met skuld

Giannis: * “My besigheid het gedurende die finansiële krisis in Griekeland in duie gestort, en ons het dus agtergeraak met ons betalings op ons verband en kredietkaarte. Ek kon nie slaap nie as gevolg van die stres.”

Katerina: “Ons het ons huis met liefde gebou, en die gedagte om dit te verloor was vir my net te veel. Ek en Giannis het baie gestry oor hoe ons ons skuld kon afbetaal.”

SKULD kan gespanne verhoudings in ’n gesin veroorsaak of dit kan ’n gesin selfs verwoes. Die navorser Jeffrey Dew het byvoorbeeld gevind dat egpare wat in die skuld is minder tyd saam deurbring, meer dikwels stry en ongelukkiger is. In vergelyking met ander onderwerpe duur argumente oor skuld en finansies langer, gee dit tot meer skreeuery en slanery aanleiding en is daar ’n groter moontlikheid dat dit tot verdere argumente sal lei. Dit is dus nie verbasend dat meningsverskille oor geld die vernaamste oorsaak van egskeiding in die Verenigde State is nie.

Oormatige skuld veroorsaak ook gesondheidsprobleme, soos slapeloosheid, kopsere, maagpyn, hartaanvalle en depressie. ’n Vrou met die naam Marta sê: “My man, Luís, was so depressief oor ons skuld dat hy feitlik die hele dag geslaap het. Die man waarop ek altyd staat gemaak het, was nou hulpeloos.” Vir party word die stres te veel. BBC News het byvoorbeeld berig dat ’n getroude vrou in die suidooste van Indië selfmoord gepleeg het nadat sy agtergeraak het met betalings op lenings wat gelykstaande aan R7 000 was. Sy het die geld geleen om vir haar kinders se mediese sorg te betaal.

Wat kan julle doen as julle gesin gebuk gaan onder ’n skuldlas? Kom ons bespreek ’n paar algemene uitdagings waarvoor egpare wat in die skuld is, te staan kom sowel as Bybelbeginsels wat hulle kan help om dit te bowe te kom.

UITDAGING 1: Ons blameer mekaar.

“Ek het my vrou daarvan beskuldig dat sy geld verkwis”, erken Lukasz, “en sy het weer gekla dat ons genoeg geld sou gehad het as ek heeljaar werk gehad het.” Hoe kan ’n egpaar voorkom dat skuld hulle uitmekaardryf?

’n Sleutel tot sukses: Werk saam om julle skuld af te betaal.

Dit sal nie die situasie verbeter as jy jou woede op jou maat uithaal nie—al was jou maat die een wat die skuld aangegaan het. Die Bybel se raad in Efesiërs 4:31 is dalk nou, meer as ooit tevore, van toepassing: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid.”

Onthou, julle voer ’n stryd teen die skuld, nie teen mekaar nie. ’n Man genaamd Stephanos beskryf hoe hy en sy vrou saam gewerk het: “Ons het ons skuld as ’n gemeenskaplike vyand beskou.” Hierdie soort samewerking is in ooreenstemming met wat Spreuke 13:10 sê: “Deur vermetelheid veroorsaak ’n mens net ’n stryd, maar by dié wat saam beraadslaag, is wysheid.” Moenie op vermetele wyse die situasie op jou eie probeer oplos nie, maar praat eerder openlik oor finansiële probleme en werk dan saam as ’n span.

Julle kinders kan ook ’n bydrae lewer. Edgardo, ’n vader in Argentinië, vertel wat sy gesin gedoen het: “My jong seun wou ’n nuwe fiets hê, maar ons het aan hom verduidelik waarom ons dit nie kan bekostig nie. Ons het toe vir hom ’n fiets gegee wat aan sy oupa behoort het, en hy het baie daarvan gehou. Ek het geleer hoe belangrik dit is om as ’n gesin saam te werk.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Sit ’n spesifieke tyd opsy om openlik en kalm oor julle skuld te praat. Erken enige fout wat jy dalk gemaak het. Moenie ou koeie uit die sloot grawe nie; probeer eerder oor beginsels ooreenkom wat julle finansiële besluite in die toekoms sal rig.—Psalm 37:21; Lukas 12:15.

UITDAGING 2: Dit lyk of julle nooit julle skuld sal kan afbetaal nie.

“My besigheid het baie skuld opgeloop, wat vererger is deur die finansiële krisis in Argentinië”, sê Enrique. “Toe het my vrou ’n operasie nodig gehad. Ek het nie gedink dat ek ooit van die skuld ontslae sou raak nie, dit het gevoel asof ek in ’n spinnerak vasgevang was.” Roberto, ’n man in Brasilië, het al sy spaargeld in ’n sakeonderneming verloor en het skuld gehad by 12 banke. Hy sê: “Ek kon my vriende amper nie in die oë kyk nie. Ek het soos ’n mislukking gevoel.”

Wat kan jy doen as jy oorweldig voel as gevolg van ontmoediging, skuldgevoelens of verleentheid oor jou skuld?

’n Sleutel tot sukses: Neem beheer van julle finansies. *

 

1. Bereken wat julle huidige begroting is. Hou boek van al julle inkomste en uitgawes vir twee weke—of ’n maand as dit praktieser is. Uitgawes soos belasting, versekering of klere-aankope, wat moontlik minder dikwels voorkom, moet hierby ingesluit word; gebruik maandelikse gemiddeldes hiervoor.

2. Vergroot julle inkomste. Julle kan ekstra skofte werk, seisoenwerk doen, privaat lesse aan ’n leerling gee of ’n stokperdjie in ’n tuisbesigheid omskep. ’n Woordjie van waarskuwing: Maak seker dat werk nie inbreuk maak op belangriker bedrywighede, soos julle geestelike roetine nie.

3. Besnoei uitgawes. Koop slegs artikels as julle dit nodig het, nie net omdat dit op uitverkoping is nie (Spreuke 21:5). “Dit is goed om te wag voordat jy iets koop”, sê Enrique, wat hierbo aangehaal is, “aangesien dit jou help om te besluit of jy die artikel regtig nodig het en of jy dit net wil hê.” Hier is nog ’n paar wenke.

  • Behuising: Trek, indien moontlik, na ’n woning waarop die maandelikse betalings kleiner is. Verminder jou huishoudelike uitgawes deur minder elektrisiteit en water te gebruik.

  • Kos: Pak middagete of ’n versnappering in eerder as om gereeld uit te eet. Gebruik afslagkoepons en ander spesiale aanbiedinge. “Ek bespaar geld as ek vrugte en groente by straatmarkte koop net voordat hulle toemaak”, sê Joelma, in Brasilië.

  • Vervoer: Verkoop motors wat julle nie nodig het nie, en hou julle motor in stand eerder as om haastig te wees om ’n nuwer model te koop. Gebruik openbare vervoer of loop wanneer julle kan.

Nadat julle julle uitgawes besnoei het, is julle gereed om julle oorblywende geld wyslik te gebruik.

4. Ontleed julle skuld en tree op. Eerstens, stel die volgende vas oor elke skuld wat julle het: die rentekoers, die fooie, wat die gevolg is as ’n rekening laat of nie betaal word nie en of julle rekeninge het wat agterstallig is. Gaan die bewoording van die lening of rekening noukeurig na, aangesien krediteure bedrieglik kan wees. Een instelling in die Verenigde State wat korttermynlenings aanbied, het byvoorbeeld gesê dat hulle rentekoers 24 persent is, hoewel dit eintlik meer as 400 persent is.

Besluit dan in watter volgorde julle julle skuld gaan afbetaal. Een manier om dit te benader, is om eerstens werk te maak van skuld wat die hoogste rentekoers het. Nog ’n opsie is om kleiner skulde eerste af te betaal, aangesien julle meer optimisties sal voel as julle elke maand minder rekeninge ontvang. As julle lenings met ’n hoë rentekoers het, sal dit dalk voordelig wees om ’n nuwe lening teen ’n laer rentekoers aan te gaan sodat julle julle bestaande lenings kan afbetaal.

Laastens, as julle nie julle skuld kan betaal nie, kan julle met julle krediteure oor nuwe afbetalingsplanne probeer onderhandel. Julle kan uitstel vra of ’n laer rentekoers probeer kry. Sommige krediteure sal moontlik selfs bereid wees om die bedrag wat julle skuld te verminder as julle die laer bedrag onmiddellik ten volle kan betaal. Wees eerlik en beleefd wanneer julle julle finansiële situasie verduidelik (Kolossense 4:6; Hebreërs 13:18). Stel enige ooreenkoms op skrif. Al word julle eerste versoek nie toegestaan nie, moet julle bereid wees om herhaaldelik vir ’n aanpassing te vra as dit nodig is.—Spreuke 6:1-5.

Julle moet natuurlik realisties oor julle finansies wees. Selfs die beste plan kan misluk as gevolg van faktore buite julle beheer, aangesien geld dikwels ‘vir hom vlerke soos dié van ’n arend maak en wegvlieg na die hemel’.—Spreuke 23:4, 5.

PROBEER DIE VOLGENDE: Nadat julle ’n begroting opgestel het, kan julle bespreek hoe elkeen uitgawes kan besnoei of die gesin se inkomste kan vergroot. As julle sien hoe elkeen opofferings maak, kan dit julle help om saam te werk om van julle skuld ontslae te raak.

UITDAGING 3: Skuld oorheers ons denke.

Die stryd teen skuld kan belangriker aspekte van die lewe verdring. ’n Man met die naam Georgios het dit soos volg gestel: “Die grootste probleem was dat ons hele lewe om ons skuld gedraai het. Ons het belangriker sake op die agtergrond geskuif.”

’n Sleutel tot sukses: Hou geld op sy plek.

Ten spyte van julle beste pogings sal julle dalk nog jare lank skuld hê. Intussen kan julle besluit hoe julle julle omstandighede gaan beskou. Moenie behep wees met geld of die gebrek daaraan nie, maar slaan eerder ag op die Bybel se raad: “As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.”—1 Timoteus 6:8.

As julle tevrede is met julle finansiële situasie, stel dit julle in staat om ‘seker te maak van die belangriker dinge’ (Filippense 1:10). Hierdie “belangriker dinge” sluit julle vriendskap met God en met julle gesin in. Georgios, wat hierbo aangehaal is, sê: “Hoewel ons nog nie al ons skuld afbetaal het nie, is dit nie meer die middelpunt van ons lewe nie. Ons huwelik is gelukkiger noudat ons meer tyd met ons kinders en met mekaar bestee en ook meer dikwels as ’n gesin aan geestelike bedrywighede deelneem.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Maak ’n lys van dinge wat vir julle werklik kosbaar is en wat geld nie kan koop nie. Bepaal dan hoe julle meer tyd en energie aan elke item op julle lys kan bestee.

Probleme met skuld veroorsaak stres, en dit vereis opofferings om dit te hanteer; maar die resultate is die moeite werd. Andrzej, in Pole, erken: “Toe ek uitgevind het dat my vrou borg gestaan het vir ’n werksmaat wat ’n groot lening aangegaan het en toe verdwyn het sonder om haar skuld te betaal, was die atmosfeer in ons huis gespanne, om die minste te sê.” Maar wanneer hy terugdink aan hoe hy en sy vrou gereageer het, sê hy: “Ons het in werklikheid gehegter geraak aan mekaar—nie weens die probleem nie, maar omdat ons saam gewerk het om dit op te los.”

^ par. 3 Party name in hierdie artikel is verander.

^ par. 17 Vir meer wenke, sien die voorbladreeks “Hoe om met jou geld te werk” in die Ontwaak! van September 2011, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

VRA JOU AF . . .

  • Hoe kan ek my gesin help om van ons skuld ontslae te raak?

  • Hoe kan ons verhoed dat skuld ons verhouding oorheers of selfs verwoes?