Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vraag 2: Wat sal gebeur wanneer ek sterf?

Vraag 2: Wat sal gebeur wanneer ek sterf?

ROMAN was ’n jong seun toe ’n goeie vriend in ’n motorongeluk oorlede is. “Die dood van my vriend was vir my ’n baie groot skok”, sê hy. “Jare ná die ongeluk het ek nog gewonder wat met ons gebeur wanneer ons sterf.”

Waarom vra mense hierdie vraag?

Dit is vir mense moeilik om die dood te aanvaar. Ongeag hoe oud ons is, ons wil gewoonlik nie sterf nie. Baie mense vrees wat ná die dood gebeur.

Wat sê party is die antwoord?

Baie mense glo dat wanneer iemand sterf, ’n deel van daardie persoon voortleef. Hulle glo dat goeie mense met hemelse lewe beloon sal word, terwyl slegte mense vir ewig vir hulle sondes gestraf sal word. Ander dink dat ’n mens ophou om te bestaan wanneer jy sterf en uiteindelik heeltemal vergeet word.

Wat gee hierdie antwoorde te kenne?

Die eerste antwoord is gebaseer op die veronderstelling dat ’n mens nie werklik dood is wanneer hy sterf nie. Die tweede antwoord gee te kenne dat die lewe sinloos is. Diegene wat die tweede beskouing huldig, neem soms die volgende fatalistiese gesindheid aan: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf.”—1 Korintiërs 15:32.

Wat leer die Bybel?

Die Bybel leer nie dat ’n deel van iemand voortleef nadat hy gesterf het nie. God het koning Salomo geïnspireer om te skryf: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). Diegene wat ‘van hoegenaamd niks bewus is’, weet glad nie wat om hulle aangaan nie. Hulle kan niks voel of doen nie. Die dooies kan dus nie die lewendes help of leed aandoen nie.

In teenstelling met wat baie glo, was dit nie God se voorneme dat die mens sterf nie. Hy het die eerste mens, Adam, met die vooruitsig geskep om vir ewig op die aarde te lewe. Die enigste keer dat God melding gemaak het van die dood, was toe hy vir Adam van die straf vir ongehoorsaamheid vertel het. Hy het Adam verbied om van die vrug van ’n sekere boom te eet en hom toe gewaarsku dat hy ‘sekerlik sou sterf’ as hy daarvan eet (Genesis 2:17). As Adam en Eva gehoorsaam gebly het, sou hulle en al hulle nakomelinge wat aan God lojaal was, vir ewig op die aarde gelewe het.

Adam het besluit om God se waarskuwing te ignoreer. Hy het gesondig toe hy ongehoorsaam was aan God, en daarom het hy gesterf (Romeine 6:23). Geen deel van Adam het ná sy dood voortgeleef nie. Adam het eerder ophou bestaan toe hy gesterf het. God het vir Adam gesê: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy na die grond terugkeer, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Omdat alle mense van Adam afstam, het ons sonde en die dood van hom geërf.—Romeine 5:12.

Ondanks Adam se slegte besluit sal God Sy voorneme verwesenlik om die aarde met Adam se nakomelinge te vul (Genesis 1:28; Jesaja 55:11). Jehovah sal binnekort die meeste mense wat gesterf het, opwek. Die apostel Paulus sê met verwysing na daardie tyd: ‘Daar sal ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges wees.’—Handelinge 24:15.

Roman, wat vroeër aangehaal is, het die Bybel bestudeer en uitgevind wat dit oor die dood en oor Jehovah God leer. Wat hy geleer het, het hom diep geraak. Lees sy verhaal in die artikel met die titel “Die Bybel verander lewens”.