Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor verassing?

Wat sê die Bybel oor verassing?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel praat nie spesifiek oor die gebruik van verassing nie. Daar is geen bevel in die Bybel oor die begrafnis of verassing van dooie mense nie.

 Daar is wel gevalle in die Bybel van getroue knegte van God wat hulle dooies begrawe het. Byvoorbeeld, Abraham het baie moeite gedoen om seker te maak dat sy vrou, Sara, ’n plek het waar sy begrawe kon word. — Genesis 23:2-20; 49:29-32.

 Die Bybel noem ook getroue mense wat die lyke van dooies verbrand het. Byvoorbeeld, toe koning Saul van Israel en drie van sy seuns in ’n oorlog doodgemaak is, het hulle lyke eers in die vyand se gebied agtergebly en is dit sonder waardigheid behandel. Toe getroue Israelitiese soldate hiervan hoor, het hulle die lyke van Saul en sy seuns gaan haal, dit verbrand en dit wat oorgebly het, begrawe (1 Samuel 31:8-13). Die Bybel wys dat dit ’n aanvaarbare manier was om die lyke van hierdie mans te hanteer. — 2 Samuel 2:4-6.

Wat mense oor die algemeen van verassing dink

 Wat mense dink: Verassing bring oneer op die liggaam.

 Feit: Die Bybel sê dat diegene wat doodgaan, tot stof terugkeer. Dit is iets wat natuurlik met ’n lyk gebeur wanneer dit ontbind (Genesis 3:19). Verassing laat die proses vinniger gebeur omdat die liggaam alreeds tot as of stof verbrand is.

 Wat mense dink: In Bybeltye is net mense wat God se guns verloor het, verbrand nadat hulle gesterf het.

 Feit: Die dooie liggame van party ontroue mense, soos Agan en sy gesin, is verbrand (Josua 7:25). Maar dit is nie iets wat oor die algemeen gebeur het nie (Deuteronomium 21:22, 23). Soos vroeër genoem is, is die liggame van party getroue mense, soos koning Saul se seun Jonatan, verbrand nadat hy gesterf het.

 Wat mense dink: Verassing verhoed dat God ’n persoon weer lewend kan maak.

 Feit: As dit kom by die opstanding van die dooies, maak dit nie by God saak of die persoon se liggaam begrawe, veras, verlore in die see of deur wilde diere opgevreet is nie (Openbaring 20:13). Die Almagtige kan maklik weer ’n nuwe liggaam vir die persoon skep. — 1 Korintiërs 15:35, 38.