Spring na inhoud

Wat gebeur wanneer jy sterf?

Wat gebeur wanneer jy sterf?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel sê: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5; Psalm 146:4). Wanneer ons sterf, hou ons dus op om te bestaan. Die dooies kan nie dink, iets doen of enigiets voel nie.

“Tot stof sal jy terugkeer”

 God het verduidelik wat gebeur wanneer ons sterf toe hy met die eerste mens, Adam, gepraat het. Omdat Adam ongehoorsaam was, het God vir hom gesê: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). Voordat God Adam “uit stof van die aarde” geskep het, het Adam nie bestaan nie (Genesis 2:7). Toe Adam gesterf het, het hy eweneens tot stof teruggekeer en opgehou om te bestaan.

 Dieselfde gebeur met diegene wat vandag sterf. Die Bybel sê aangaande mense sowel as diere: “Hulle is almal uit die stof, en hulle keer almal na die stof terug.”—Prediker 3:19, 20.

Die dood is nie noodwendig die einde van alles nie

 Die Bybel vergelyk die dood dikwels met slaap (Psalm 13:3; Johannes 11:11-14; Handelinge 7:60). Iemand wat vas aan die slaap is, is onbewus van wat om hom aangaan. So ook is die dooies bewus van niks. Maar die Bybel leer dat God die dooies kan wakker maak, asof uit ’n diep slaap, en hulle weer lewe kan gee (Job 14:13-15). Vir diegene wie God gaan opwek, is die dood nie die einde van alles nie.