Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek goeie eetgewoontes hê?

Hoe kan ek goeie eetgewoontes hê?

 Jy weet seker dat ongesonde eetgewoontes sleg kan wees vir jou gesondheid. Ongesonde jongmense word baie keer ongesonde grootmense. So, dit is goed dat jy nou al gesonde eetgewoontes aanleer.

 Wat is gesonde eetgewoontes?

 Die Bybel sê vir ons om “matig in gewoontes” te wees, en dit sluit ons eetgewoontes in (1 Timoteus 3:11). Dit is dan goed om te weet dat . . .

  •   Goeie eetgewoontes alle kosgroepe insluit. Die vyf kosgroepe sluit melkprodukte, proteïene, vrugte, groente en graan in. Party mense sny een of meer kosgroep uit omdat hulle dink dat dit hulle sal help om gewig te verloor. Maar as ’n mens dit doen, kry jou liggaam dalk nie alles in wat dit nodig het om gesond te wees nie.

     Probeer die volgende: Doen navorsing of gaan na ’n dokter om uit te vind hoekom dit belangrik is om sekere kosse te eet. Byvoorbeeld:

     Koolhidrate kan jou energie gee. Proteïene kan jou liggaam help om teen infeksie te veg en kan ook help om weefsel op te bou en te herstel. Sekere vette – in die regte hoeveelheid – kan jou ’n beter kans gee om nie hartsiektes te kry nie en help jou om op jou beste te voel.

     “Ek probeer om gesonde eetgewoontes te hê en eet van al die kosgroepe. Ek dink ook nie dis verkeerd om nou en dan ’n sjokolade of gemorskos te eet nie. Maar ’n mens moenie net hierdie soort kos eet nie. Dis goed om gebalanseerd te wees.” – Brenda.

    Eetgewoontes wat nie gesond is nie, is soos ’n stoel met net drie pote

  •   Goeie eetgewoontes keer dat jy nie dinge te ver vat nie. Dit sluit dalk in dat jy nie genoeg eet nie, dat jy jouself uithonger en dan ooreet of dat jy glad nie kosse eet waarvan jy eintlik hou nie.

     Probeer die volgende: Kyk vir ’n maand lank wat jy eet. Hoe gereeld doen jy een van die ongesonde dinge wat hierbo genoem word? Watter verandering kan jy aan jou eetgewoontes maak sodat jy dinge nie te ver vat nie?

     “Ek het dinge te ver gevat. Daar was dae wat ek ooreet het en dae wat ek amper niks geëet het nie. Ek het uiteindelik besluit om nie te tel hoeveel kalorieë ek inneem nie, om nie te ooreet nie en om op te hou eet wanneer ek vol is. Dit het tyd gevat, maar ek het dit reggekry om goeie eetgewoontes aan te leer.” – Hailey.

 Hoe kan ek aanhou om gesond te eet?

  •   Beplan vooruit. Die Bybel sê: “Die planne van die vlytige lei gewis tot voordeel” (Spreuke 21:5). As jy gesonde eetgewoontes wil hê, moet jy vooruit beplan.

     “Jy moet vooruit beplan as jy gesond wil eet. Dit beteken dat jy baie keer gesonde kos by die huis moet maak. En al is dit moeilik, is dit die moeite werd, en dit kan jou ook baie geld spaar.” – Thomas.

  •   Vervang ongesonde kosse. Die Bybel sê: “Bewaar praktiese wysheid” (Spreuke 3:21). Praktiese wysheid sal jou help om buite die boks te dink en goeie eetgewoontes aan te leer wat die beste vir jou werk.

     “Ek het elke dag ’n ongesonde opsie met iets gesonds vervang. Byvoorbeeld, eerder as om ’n sjokolade te eet, het ek ’n appel geëet. In ’n kort rukkie het ek geleer om elke dag gesonder keuses te maak!” – Kia.

  •   Moenie te hard op jouself wees nie. Die Bybel sê: “Eet jou voedsel met blydskap” (Prediker 9:7). Om gesonde eetgewoontes te hê, beteken nie dat jy nie jou kos kan geniet nie. Dit beteken ook nie dat jy te veel stres oor elke stukkie kos wat jy in jou mond sit nie. Selfs al moet jy gewig verloor, moet jy onthou dat jou doel is om gesond te wees. Moenie te hard op jouself wees en te veel van jouself verwag nie.

     “Ek het onlangs meer as 13 kilogram verloor en gedurende hierdie tyd het ek nooit myself uitgehonger, sekere kosgroepe uitgesny of skuldig gevoel as ek iets soet geëet het nie. Ek het besef dat om gewig te verloor, nie iets is wat vinnig gebeur nie en dat ek my gesindheid oor my eetgewoontes moes verander.” – Melanie.