Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoekom moet ek jammer sê?

Hoekom moet ek jammer sê?

 Wat sal jy doen in die volgende situasies?

  1.   Jou onderwyser skel jou uit omdat jy jou nie gedra het in die klas nie.

     Moet jy vir jou onderwyser jammer sê al dink jy dat hy oorreageer het?

  2.   ’n Vriendin vind uit dat jy iets leliks oor haar gesê het.

     Moet jy vir jou vriendin jammer sê al voel jy dat wat jy gesê het, waar is?

  3.   Jy raak kwaad vir jou pa en praat disrespekvol met hom.

     Moet jy vir jou pa jammer sê al voel jy dat dit sy skuld is dat jy kwaad geword het?

 Die antwoord op al drie vrae is ja. Maar hoekom moet ek sê “Ek’s jammer” as ek voel dat ek nie heeltemal verkeerd was nie?

 Hoekom jammer sê?

  •   Om jammer te sê wys dat jy volwasse is. Wanneer jy verantwoordelikheid neem vir iets wat jy gesê of gedoen het, wys jy dat jy belangrike eienskappe aanleer wat jy nodig sal hê wanneer jy ’n grootmens is.

     “Nederigheid en geduld kan ons help om jammer te sê en dan te luister na wat die ander persoon te sê het.”Rachel.

  •   Om jammer te sê help jou om vrede te maak met ander. Mense wat sê “Ek’s jammer”, stel meer daarin belang om vrede te maak as om te bewys dat hulle reg is en dat die ander persoon verkeerd is.

     “Selfs al dink jy nie dat jy verkeerd is nie, moet dit vir jou belangrik wees om vrede te maak. Dit kos niks om te sê ‘Ek’s jammer’ nie, maar dit kan ’n vriendskap red.” – Miriam.

  •   Om jammer te sê help jou om beter te voel. As jy iemand seermaak deur iets wat jy gesê of gedoen het, kan dit jou baie sleg laat voel. Maar wanneer jy jammer sê, sal jy baie beter voel. a

     “Daar was tye wat ek teruggepraat het met my ma en pa. Ek het sleg gevoel, maar dit was vir my moeilik om jammer te sê. Maar toe ek dit wel gedoen het, het dit my altyd beter laat voel omdat ek die vrede in die gesin bewaar het.” – Nia.

    As jy iemand seermaak, kan dit voel asof jy ’n baie swaar las dra. Maar wanneer jy jammer sê, sal jy beter voel.

 Is dit moeilik om jammer te sê? Ja! Dena, ’n jong vrou wat al meer as een keer moes jammer sê omdat sy onbeskof was met haar ma, erken: “Dis nie maklik om te sê ‘Ek’s jammer’ nie. Dit voel asof daar ’n knop in my keel is en asof die woorde nie wil uitkom nie!”

 Hoe om te sê “Ek’s jammer”

  •   As dit moontlik is, sê persoonlik jammer. Om in persoon jammer te sê, gee die ander persoon die kans om te sien dat jy regtig jammer is. Maar as jy ’n boodskap stuur om jammer te sê, kan die persoon jou dalk nie glo nie. Selfs al stuur jy ’n hartseer emoji in die boodskap, kan dit onpersoonlik en gevoelloos lyk.

     Wenk: As jy nie in persoon kan jammer sê nie, probeer hulle bel of skryf ’n briefie. Wat jy ook al besluit om te doen, dink mooi oor wat jy wil sê.

     Bybelwaarheid: “Die hart van die regverdige dink mooi voordat hy antwoord.” – Spreuke 15:28.

  •   Sê dadelik dat jy jammer is. As jy lank vat om jammer te sê, kan die probleem al hoe erger raak. Jou verhouding met die persoon wat jy seergemaak het, kan ook ongemaklik word.

     Wenk: Stel ’n doelwit vir jouself. Byvoorbeeld, ‘Ek wil vandag jammer sê’. Besluit wanneer jy wil jammer sê en doen dit dan.

     Bybelwaarheid: “Wees gou om dinge reg te stel.” – Matteus 5:25.

  •   Sê uit jou hart uit dat jy jammer is. As jy sê “Ek is jammer dat jy so voel”, is jy nie regtig jammer nie! ’n Jong vrou met die naam Janelle sê: “Die persoon wat seergekry het, het gewoonlik meer respek vir jou as hy sien dat jy verantwoordelikheid neem vir wat jy gedoen het.”

     Wenk: Sê dat jy jammer is sonder enige voorwaardes. Moenie iets sê soos “Ek sal jammer sê vir wat ek gedoen het as jy jammer sê vir wat jy gedoen het” nie.

     Bybelwaarheid: “Laat ons dan alles moontlik doen om vrede te bevorder.” – Romeine 14:19.

a As jy iemand se besitting verloor of beskadig het, sal dit goed wees as jy nie net jammer sê nie, maar ook aanbied om vir die skade te betaal.