Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek groepsdruk weerstaan om seks te hê?

Hoe kan ek groepsdruk weerstaan om seks te hê?

 “As iemand gesê het dat hulle al seks gehad het toe ek op skool was, dan het almal gevoel dat hulle moet opvang en dieselfde moet doen. Niemand wil tog uit voel nie.” – Elaine, 21.

 Het jy al ooit gevoel dat jy seks moet hê – net omdat dit lyk asof almal om jou dit doen?

 Het jy al ooit gevoel dat jy seks moet hê omdat iemand vir wie jy lief is, druk op jou gesit het om dit te doen?

 As dit die geval is, kan hierdie artikel jou help om die druk te weerstaan – van ander of van jou eie begeertes – sodat jy beter besluite kan maak.

 Mites en feite

 MITE: Almal het seks (behalwe ek).

 FEIT: Volgens ’n opname het twee uit drie 18-jariges gesê dat hulle al seks gehad het. Maar dit beteken dat ’n groot hoeveelheid – meer as 30 persent – nie seks gehad het nie. Nie “almal” het seks nie.

 MITE: Seks sal ons verhouding sterker maak.

 FEIT: Party seuns sal dit dalk sê om ’n meisie te oortuig om seks met hulle te hê, maar dit is nie waar nie. Baie keer sal ’n seun met ’n meisie opbreek nadat hy seks met haar gehad het. Dit kan die meisie ontstel en kwaad maak omdat sy gedink het dat hy verlief was op haar of ten minste in ’n vaste verhouding met haar was. a

 MITE: Die Bybel sê dat seks verkeerd is.

 FEIT: Die Bybel het ’n positiewe beskouing van seks, maar dit sê dat dit net geniet moet word tussen ’n man en vrou wat getroud is met mekaar. – Genesis 1:28; 1 Korintiërs 7:3.

 MITE: As ek volgens die Bybel lewe, sal dit my lewe mislik maak.

 FEIT: As jy wag totdat jy getroud is voordat jy seks het, sal jy gelukkiger wees. Jy sal nie bekommerd, spyt of onseker voel nie, wat dikwels die gevolg is van seks voor die huwelik.

 Die slotsom: Om seks tot ná die huwelik uit te stel, het nog nooit iemand seergemaak nie. Maar om seks voor die huwelik te hê, het wel.

 Hoe om die druk te weerstaan om seks te hê

  •   Maak seker dat jy vas oortuig is van wat reg en wat verkeerd is. Die Bybel sê dat volwasse mense “hulle denkvermoë geoefen het . . . sodat hulle kan onderskei wat reg en wat verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Omdat hulle vas glo wat die Bybel sê oor wat reg en wat verkeerd is, kan ander nie maklik druk op hulle sit om iets te doen wat verkeerd is nie.

     “Ek werk baie hard om die regte ding te doen en om ’n goeie reputasie te hê, en ek weier om myself in ’n situasie te sit waar ek dit kan verloor.” – Alicia, 16.

     Iets om oor te dink: Watter soort reputasie wil jy hê? Is dit die moeite werd om daardie reputasie op te gee net om die goedkeuring van iemand anders te kry?

  •   Dink aan die gevolge. Die Bybel sê: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes” (Galasiërs 6:7). Dink aan die toekoms en aan hoe jou lewe – en die lewe van die ander persoon – kan verander as jy ingee onder die druk om seks te hê. b

     “Mense wat seks het voordat hulle getroud is, voel dikwels spyt en skuldig en voel selfs dat niemand vir hulle lief is nie. Dan is daar ook die moontlikheid van ’n ongewenste swangerskap of dat ’n mens ’n seksueel oordraagbare siekte kan kry.” – Sienna, 16.

     Iets om oor te dink: Die boek Sex Smart vra: “As jy vriende is met mense wat druk op jou sit om dinge te doen wat jou hele lewe kan opmors, is hulle die tipe mense met wie jy tyd moet spandeer en na wie se raad jy moet luister?”

  •   Wees redelik. Seks is nie iets slegs nie. Om die waarheid te sê, die Bybel wys dat getroude paartjies hierdie deel van hulle verhouding moet geniet. – Spreuke 5:18, 19.

     “Seks is ’n mooi deel van die skepping. God wil hê dat ons dit moet geniet, maar net onder die reëling wat hy ingestel het, die huwelik.” – Jeremy, 17.

     Iets om oor te dink: As jy eendag wel trou, sal jy seks kan hê. En jy sal dit ten volle kan geniet sonder die slegte gevolge wat vroeër genoem is.

a Natuurlik is dit nie altyd die seun wat die meisie probeer oorreed om seks met hom te hê nie. In baie gevalle probeer meisies seuns oorreed om seks te hê.

b Die gevolge kan dinge insluit soos ’n ongewenste swangerskap. Afhangende van die ouderdomme van die twee persone kan regstappe geneem word as gevolg van seksuele aktiwiteit met minderjariges.