Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Hoe kan ek met my onderwyser oor die weg kom?

Hoe kan ek met my onderwyser oor die weg kom?

 Nagmerrie-onderwysers

 Die een of ander tyd sal amper elke student ’n onderwyser hê wat onregverdig is, te veel verwag of net sommer onbeskof is.

  •   Luis, 21,vertel: “Ek het ’n onderwyser gehad wat gereeld gevloek het en haar studente sonder respek behandel het. Sy sou binnekort aftree, so sy het dalk gedink dat sy nie haar werk kon verloor nie.”

  •   Melanie, 25, onthou hoe haar onderwyser haar veral onregverdig behandel het. “Die rede hoekom sy so op my gepik het, was dat ek nie deel was van ’n groot godsdiens nie. Sy het gesê dat ek daaraan gewoond moet raak om sleg behandel te word.”

 As jy ’n onderwyser het wat te streng is, is daar dinge wat jy kan doen sodat jou skooljaar nie te erg is nie. Probeer die volgende voorstelle.

 Hoe om te oorleef

  •   Wees aanpasbaar. Verskillende onderwysers verwag verskillende dinge van hulle studente. Probeer uitvind wat jou onderwyser van jou verwag, en doen jou bes om saam te werk.

     Bybelwaarheid: “’n Wyse persoon luister en neem meer kennis in.” – Spreuke 1:5.

     “Ek het besef dat ek moes aanpas by my onderwyser se manier van dinge doen. Daarom het ek my bes probeer om die werk te doen soos sy dit wil hê. Dit het dit vir my makliker gemaak om met haar oor die weg te kom.”Christopher.

  •   Wees respekvol. Probeer om op ’n mooi manier met jou onderwysers te praat. Moet nooit terugpraat nie, selfs al dink jy hulle verdien dit. Onthou, hulle sien jou as ’n student, nie as ’n vriend nie.

     Bybelwaarheid: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.” – Kolossense 4:6.

     “Onderwysers kry nie altyd die respek wat hulle van hulle studente verdien nie, so wanneer jy hulle met respek behandel, kan dit ’n groot verskil maak aan hoe hulle jou behandel.” – Ciara.

  •   Probeer hulle verstaan. Onderwysers is ook net mense. Dit beteken dat hulle, soos alle ander mense, baie druk en stres het. So moenie net dink: ‘My onderwyser is mislik’ of ‘My onderwyser haat my’ nie.

     Bybelwaarheid: “Ons almal maak dikwels foute.” – Jakobus 3:2, voetnoot.

     “Onderwysers se werk is regtig baie moeilik. Ek kan myself nie voorstel hoe hulle kinders kry om hulle goed te gedra en hulle iets leer nie. Ek het altyd gevoel dat ek dit vir die onderwyser makliker moet maak en nie vir haar meer stres moet veroorsaak nie.” – Alexis.

  •    Praat met jou ouers. Jou ouers is jou beste ondersteuners. Hulle wil jou help om goed te doen in die skool, en hulle raad kan jou help om ’n moeilike onderwyser te hanteer.

     Bybelwaarheid: “Planne misluk as ’n saak nie bespreek word nie.” – Spreuke 15:22.

     “Ouers het baie meer ondervinding daarin om probleme op te los. So luister na hulle raad. Dit kan jou help om suksesvol te wees.” – Olivia.

 Hoe om met jou onderwyser te praat

 In party gevalle moet jy dalk met jou onderwyser oor die probleem praat wat jy met hom of haar het. As jy nie van konfrontasie hou nie, onthou – dit is nie ’n argument nie. Dit is ’n bespreking, en dit kan verbasend genoeg maklik en effektief wees.

 Bybelwaarheid: “Laat ons dan alles moontlik doen om vrede te bevorder.” – Romeine 14:19.

 “As die onderwyser net met jou mislik is, vra haar wat jy gedoen het om haar te ontstel. Haar antwoord kan jou help om te sien waar jy kan verbeter.” – Juliana.

 “Dit sal dalk beter wees as jy op ’n kalm manier voor of ná die klas privaat met die onderwyser praat om vir hom of haar te sê hoe jy oor die probleem voel. Hopelik sal hy of sy redelik wees en respek hê vir die manier hoe jy dit hanteer het.”Benjamin.

 WARE VERHAAL

 “Ek het swak punte gekry, en my onderwyser was glad nie bereid om my te help nie. Ek wou nie meer skool toe gaan nie, want sy het my lewe aaklig gemaak.

 “Ek het na ’n ander onderwyser toe gegaan vir raad. Hy het vir my gesê: ‘Sy ken jou nie regtig nie, en jy ken haar nie regtig nie. Jy moet vir haar sê dat jy sukkel. Jy kan dalk ander studente help wat te bang is om met haar te praat.’

 “Dit was die laaste ding wat ek wou doen! Maar ek het gedink oor wat hy gesê het, en hy was reg. As ek wou hê dat dinge moes verander, moes ek die eerste stap neem.

 “So ek het die volgende dag na my onderwyser toe gegaan en respekvol vir haar gesê dat ek regtig haar klas waardeer en dat ek meer wil leer. Maar ek het ook vir haar gesê dat ek sukkel en dat ek nie weet wat om te doen nie. Sy het vir my voorstelle gegee en selfs aangebied om my ná skool of deur middel van e-pos te help.

 “Ek was geskok! Deur met haar te praat, kon ek my verhouding met die onderwyser verbeter en my lewe by die skool baie makliker maak.” – Maria.

 Wenk: As jy probleme met ’n onderwyser het, sien dit as opleiding wat jou sal help wanneer jy ’n grootmens is. Katie, 22, sê: “Selfs nadat jy met skool klaargemaak het, sal jy tien teen een mense teëkom wat in hoër posisies is en jou nie altyd goed sal behandel nie. As jy ’n moeilike onderwyser kan hanteer, sal jy ander moeilike mense in die toekoms ook beter kan hanteer.”