Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Om met iemand uit te gaan – Deel 2: Wat moet ek verwag wanneer ek met iemand uitgaan?

Om met iemand uit te gaan – Deel 2: Wat moet ek verwag wanneer ek met iemand uitgaan?

 Jy is aangetrokke tot iemand wat jy ontmoet het, en die twee van julle het besluit om uit te gaan om te kyk of julle goeie huweliksmaats vir mekaar sal wees. Wat moet jy verwag terwyl julle mekaar beter leer ken?

In hierdie artikel

 Verwag om eerlike gesprekke te hê

 Jy en die persoon met wie jy uitgaan, sal baie oor mekaar leer soos wat julle meer tyd saam spandeer. Jy sal party dinge uitvind deur te kyk na hoe die persoon optree.

 Maar daar is sekere dinge wat die twee van julle eerlik met mekaar sal moet bespreek. Terwyl jy dit doen, bly so redelik as moontlik, en moenie so emosioneel word dat jy nie reguit kan dink nie.

 Onderwerpe wat die twee van julle moet bespreek, sluit die volgende in:

  •   Finansies. Het jy enige skuld? Vind jy dit moeilik om jou geld wyslik te spandeer? As julle trou, hoe sal jy en jou huweliksmaat besluite maak oor julle inkomste en uitgawes?

  •   Gesondheid. Is jy gesond? Het jy enige ernstige gesondheidsprobleme in die verlede gehad?

  •   Doelwitte. Wat wil jy met jou lewe doen? Is julle doelwitte dieselfde? Sal jy nog steeds gelukkig wees as jy nie jou doelwitte kan bereik omdat jou omstandighede verander het nadat julle getrou het nie?

  •   Familie. Het jy op die oomblik enige familieverantwoordelikhede? Dink jy dat jy enige familieverantwoordelikhede in die toekoms sal hê? Wil jy kinders hê? Indien wel, hoeveel kinders?

 Wanneer jy sulke onderwerpe bespreek, wees heeltemal eerlik. Moenie die feite verdraai of enige iets wegsteek net om ’n goeie indruk te maak nie. – Hebreërs 13:18.

 Iets om oor te dink: Wat moet jy weet oor die persoon met wie jy uitgaan? Wat moet hy of sy oor jou weet? Hoe sal die feit dat julle nou al eerlik met mekaar is, dit vir julle later makliker maak om eerlik te kommunikeer as julle besluit om te trou?

 Bybelwaarheid: “Praat die waarheid met mekaar.” – Efesiërs 4:25, Die Lewende Bybel.

 “Die meisie dink dalk: ‘Binne ses maande sal ons verloof wees’, maar die jong man dink dalk eers oor ’n jaar. In hierdie geval mag die meisie dalk seergemaak en verward voel omdat sy verwag het dat hulle vroeër verloof sou raak. Dit is belangrik dat al twee op dieselfde bladsy is.” – Ariana, een jaar getroud.

 Verwag om verskillende beskouings te hê

 Geen twee mense is dieselfde nie. So moenie verwag dat jy en die persoon met wie jy uitgaan, oor alles sal saamstem of dieselfde oor dinge gaan voel nie. Byvoorbeeld, faktore soos jou kultuur en hoe jy grootgeword het, kan jou beskouing beïnvloed.

 Iets om oor te dink: Daar sal dalk tye wees wanneer julle nie saamstem oor iets kleins nie. Is julle dan albei bereid om in te gee ter wille van die vrede, solank daar nie Bybelbeginsels betrokke is nie?

 Bybelwaarheid: “Laat julle redelikheid . . . bekend word.” – Filippense 4:5.

 “Al dink jy dalk dat julle ‘perfek’ bymekaar pas, sal daar tye wees dat julle nie met mekaar saamstem nie. Alhoewel dit belangrik is dat julle bymekaar pas, is dit selfs nog belangriker om te kyk na die eienskappe wat julle elkeen toon wanneer julle van mekaar verskil.” – Matthew, vyf jaar getroud.

 Verwag dat dit stresvol sal wees om met iemand uit te gaan

 Om in ’n verhouding te wees, sal baie van jou tyd vat, en dit kan stresvol wees. Wat kan jou help?

 Stel redelike perke. Moenie soveel op jou nuwe verhouding fokus dat jy jou ander verantwoordelikhede – of selfs jou vriende – afskeep nie. Alana, wat vyf jaar getroud is, sê: “Nadat jy getroud is, sal jy nog steeds jou vriende nodig hê, en hulle sal jou ook nodig hê. Moenie hulle nou ignoreer net omdat jy met iemand begin uitgaan het nie.”

 Onthou, wanneer jy trou, moet jy in alles gebalanseerd wees. Dit sal goed wees om nou al daaraan te werk terwyl julle uitgaan.

 Iets om oor te dink: Verwag jy dat die persoon met wie jy uitgaan, al sy tyd en aandag aan jou moet spandeer? Voel jy dat hy of sy te veel van jou verwag? Hoe kan julle al twee gebalanseerd wees sodat nie een van julle emosioneel uitgeput of oorweldig voel deur die verhouding nie?

 Bybelwaarheid: “Daar is vir alles ’n vasgestelde tyd, ’n tyd vir elke bedrywigheid.” – Prediker 3:1.

 “As ontspanning die enigste ding is waarop ’n paartjie fokus terwyl hulle uitgaan, sal die huwelik dalk vir hulle ’n groot skok wees. Dit is goed as ’n paartjie alledaagse dinge doen soos om inkopies en huistakies te doen en om saam te aanbid. Dit kan hulle regtig help om ’n goeie fondasie vir hulle huwelik te lê.” – Daniel, twee jaar getroud.

 Onthou, om met iemand uit te gaan, is net tydelik. Dit hou net aan totdat jy ’n besluit maak, of om te trou of om die romantiese verhouding te beëindig. Deel 3 van hierdie reeks sal dinge bespreek waaraan jy moet dink wanneer jy daardie besluit maak.